
Daar word soveel na swak toestande in staatshospitale verwys en min aandag word gegee aan die goeie werk wat ook daar gedoen word.
In hierdie skrywe wil ek graag my persoonlike ervaring deel van Leratong Hospitaal en sy personeel.
Ek was baie siek en moes dringend drie eenhede bloed kry. Ek is inderhaas daarheen geneem en was verbaas oor die goeie en skoon toestand van die hospitaal, asook die hulpvaardige diens wat ek tydens die volle maand van my verblyf daar gekry het.
In dieselfde tyd is ontdek dat ek ‘n groot operasie moes ondergaan, wat ook daar uitgevoer is en ‘n groot sukses was. Ek wil my dankbaarheid uitspreek teenoor die hospitaal en sy personeel wat alles op so ‘n mooi, professionele wyse gedoen het.
My skeptiese siening oor swak toestande in staatshospitale het totaal verander toe ek self as ‘n baie siek pasiënt in Leratong opgeneem is. Ek wil aan hulle al die lof en dank gee vir die besondere goeie diens en hulp wat ek daar ontvang het.
