
Hiermee wil ek graag my dank oordra aan Sally en Chris van Wheelchairs on the Run by Terenurestraat 13 in Kenmare, vir hulle bereidwilligheid om mense in nood te help en ‘n uiters professionele diens te lewer.
My verstandelik gestremde broer se gesondheid het in so ‘n mate verander dat hy dringend ‘n rolstoel moes kry. Ek het van plek tot plek gery en in die proses amper ‘n swakkwaliteit-rolstoel ten duurste gekoop.
Ek het baie moedeloos verby Wheelchairs on the Run gery, maar gelukkig daar gestop.
Sally en Chris het my dadelik die korrekte raad gegee, soos die korrekte grootte rolstoel en mates van die pasiënt vir sitgerief ens. Nadat ons magtiging van my broer se mediese fonds verkry het, is die korrekte rolstoel binne 14 dae afgelewer.
Chris het vir my presies verduidelik hoe die rolstoel werk en my die gemoedsrus gegee dat ek hom enige tyd kan kontak vir enige raad of bystand.
Ek wil enige persoon aanmoedig om by Chris en Sally aan te klop indien hulle rolstoele en verwante toerusting benodig. Hulle sal nie spyt wees nie.
Mense wat nog werklik omgee is skaars en dit is vir my belangrik dat ons gemeenskap kennis dra van persone soos hulle wat nog onbaatsugtige diens lewer.
Hulle dra beslis gestremde persone se belange op die hart en dit is baie duidelik dat dit vir Chris en Sally oor meer as finansiële gewin gaan!
