
Soos ek hier sit en tik, wonder ek nog hoe mense so kan wees.
Op ‘n Donderdagmiddag was my vrou op pad werk toe op haar bromponie, in die reën. ‘n Man het uit die vulstasieperseel met sy
motor voor haar ingery en toe weggery. Sy het gerem, die ponie het gegly en sy het geval.
Die vrou wat agter haar gery het, het net om haar gery en weggery. Sou dit regtig soveel van haar gevat het om net haar noodligte aan te sit vir beskerming? Die ander ou weet tien teen een niks. Niemand het gestop om te help nie. Die ponie is nogal swaar en my vrou is nie baie groot nie.
Die fiets is afgeskryf want dit is te duur om reg te maak. Ek moes geld leen om weer een te koop, want ‘n motor is te duur. My vrou het nou nog ‘n blou merk op haar been en hulle vermoed sy het ‘n been gekraak, wat steeds seer is.
Ek kan nie glo dat ‘n mens geen gevoel vir ander het nie.
Ek ry baie in Viljoenstraat, wat al hoe meer soos Kyalami begin lyk. Stoptekens en rooi verkeersligte word geïgnoreer, die een persoon gee nie eers die ander kans om behoorlik te draai nie, dan wil hulle die ou se agterent wegry. Dit is nie net die taxis wat so maak nie.
En wat het geword van die verkeersbeamptes? Ek sien wel nou en dan een wat motorlisensies in parkeerterreine nagaan.
As jy soos ‘n mens behandel wil word, tree soos een op. Doen aan ander wat jy wil hê ander moet aan jou doen.
