
Bykans elke dag sien en hoor ‘n mens skokkende berigte van misdade wat gepleeg word in ons gemeenskap, ons land en die wêreld oor.
Te midde van al die ontstellende nuus is daar tog mense wat deur liefde en omgee vir hul medemens bewys dat ons in ‘n wonderlike land woon. Sulke mense is my bure Cathy Coetzer, Elsabé le Roux en Petrus Seroro, die held van die verhaal.
Petrus het omstreeks 5nm op Vrydag, 1 Junie op pad huis toe in 4de Straat verby ‘n huis gestap en ‘n bos sleutels in ‘n slot aan die buitekant van ‘n hek sien hang. Hy was baie ontsteld daaroor en het besluit om die sleutels te neem en aan die regmatige eienaar te oorhandig. Hy het gedink die sleutels behoort aan my en het sonder sukses probeer om my aandag te trek.
Bure Cathy en Elsabé het dit gesien en gehoor, en my geskakel. Ek het uitgestap en Petrus het die sleutels aan my oorhandig. Ek het dadelik besef dat dit nie my sleutels is nie, maar vermoed dat dit aan die nuwe intrekkers aan die anderkant van ons erf behoort. Om hulle aandag te trek, het ek ‘n klip op hulle huis se dak gegooi. Die jong man het uitgekom en bevestig dat dit die sleutels van die woonstel op hulle erf is.
Die sleutels is veilig aan die regmatige eienaars oorhandig en danksy Petrus se onbaatsugtige optrede is die inwoners van die huis en woonstel sowel as hul besittings se veiligheid nie in gevaar gestel nie. Ek sidder om te dink wat sou gebeur het as daardie sleutels in verkeerde hande beland het.
Petrus Seroro, ons as inwoners van Krugersdorp wil graag vir jou sê baie dankie! Jy het uit jou pad gegaan om ‘n verskil te maak.
Petrus se selfoonnommer is aan Alanicka Lotriet van die News bekend en indien enigiemand vir hom enige vorm van ondersteuning kan bied, kan ek dit ten sterkste aanbeveel.
