
Na aanleiding van Shattered se brief, The blatant disregard for residents, in die 2 November-uitgawe van die News:
Hoërskool Noordheuwel het op 15 September Afrikaans in Die Wolke aangebied. Hierdie musiekfees vind een maal per jaar plaas en is ‘n reuse fondsinsamelingsprojek vir die skool.
Ongeveer 14 000 mense het die fees bygewoon wat dui op die groot behoefte wat in ons gemeenskap bestaan. Ons is uiters dankbaar vir die wyse waarop die gemeenskap ons ondersteun. Die goeie terugvoering wat ons mondelings, op sosiale media asook per epos ontvang het is ‘n bewys dat hierdie fees ‘n sukses was. Die hekke was van 9vm af oop vir die publiek en die funksie was 10nm klaar aangesien ons ‘n verantwoordelikheid teenoor die bure het.
Hierdie funksie is maande lank vooruit beplan en die organisering hiervan is intens. Detail is op ‘n weekliks basis bespreek en beplan. Ons het aan al die vereistes voldoen volgens Mogale City se voorskrifte en ‘n Joint Operations Committee (JoC) vergadering is op Donderdag, 13 September gehou. Al die betrokke rolspelers van Mogale City het die beplanning, dokumente en die funksie in geheel goedkeur.
Verskeie dokumente was ‘n vereiste van die JoC en Hoërskool Noordheuwel het dit ingedien, waarvoor goedkeuring ontvang is.
Op 6 September is al die bure (binne ‘n radius van een kilometer) in kennis gestel van die funksie. Briewe is in elke posbus geplaas. Ons het verduidelik dat dit ‘n musiekfees is en gevra dat die bure verdraagsaam teenoor ons moet wees. Die skool poog om te alle tye alle funksies en byeenkomste wat plaasvind, op ‘n professionele en georganiseerde manier te reël.
Ons is jammer dat die skrywer van die brief ongelukkig is oor hierdie aangeleentheid. Hy is welkom om persoonlik by die skool besoek af te lê.
Ons is ‘n skool wat trots is op dit wat ons aanbied en spreek ons dank en waardering uit teenoor die leerders en ouers van Hoërskool Noordheuwel asook die gemeenskap van Krugersdorp. Kry solank die dagboeke nader vir Afrikaans in Die Wolke 2019!
