LettersOpinion

‘n Pluimpie vir Mogale City

René van Wyngaarden van Krugersdorp-Noord skryf:

Omstandighede het my verplig om by die munisipale kantore te gaan aanklop om ‘n water en ligte rekening te open.

Doemprofete het my gewaarsku dat ek my moes klaarmaak vir ‘n lang wag en onsmaaklike personeel.

Ek het seker gemaak dat ek die korrekte dokumentasie het en gesorg vir ‘n appel en water sou ek honger of dors raak, en het my pen en tydskrif byderhand gehou vir die lang wag.

Ek is om 7.45vm daar afgelaai. Wat my onmiddellik opgeval het was die netheid. Ek is vriendelik ontvang en verwys na die toonbank waar ek dadelik die korrekte vorms ontvang het. Daarvandaan is ek na die hokkie vir registrasie waar ek so ‘n rukkie moes wag. Een van die sekuriteitswagte het vir my ‘n stoel aangebied. Die klerk was nog nie aan diens nie, maar iemand het my dokumentasie geneem en my versoek om rustig te wag. Intussen het die verantwoordelike persoon opgedaag en verskoning gemaak dat hy laat was. Ek is binne ‘n kort rukkie na die kassier verwys om my deposito te betaal. Die jong man wat die prosessering van my papiere behartig het, het besef dat ek geregtig is op korting weens my ouderdom en my betaling daarvolgens aangepas.

Die gevolge van die flink en vriendelike behandeling is dat almal ontspanne was. Daar is nie ‘n horde werkers wat rondstaan, lawaai en heen en weer loop en skree of eet nie. Teen 8.45vm was ek uit om te wag vir my rygeleentheid, met die water, appel en tydskrif nog knus in my sak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button