
• Die redakteur skryf:
Die meeste van ons het maar ons kwale.
Party van ons is allergies vir iets eenvoudig soos grondboontjies of dierehare. Ander is weer laktose-intolerant en kan nie melkprodukte gebruik nie, terwyl ‘n bysteek vir sommiges dodelik kan wees. Daar is dié wat aan ‘n chroniese velprobleem ly, of dalk ly jy aan konstante sooibrand.
Ek ly reeds sedert ek 27 is aan jig. Dis eina! Oom en tannie, met alle respek, ek verstaan jul pyn …
Ek het juis onlangs ‘n groot jigaanval gehad, wat my tegelyk laat lag en huil het. Dit was nou ‘n gesukkel. Die pyn in my linkerenkel was ondraaglik, maak nie saak wat ek probeer het nie.
Daar’s dié wat verwytend sê, “Dis die drank!”, maar ek kan julle die versekering gee dis nie die hoofrede nie. Dit kan dalk iets wees wat ek geëet het, wat moeilik is om te bepaal want ek eet alles, of dit kan ‘n besering wees. (‘n Paar dae voor die aanval het ek in die donker op my seuntjie se Monster Truck getrap en my voet lelik geswik.) Of was dit dalk die tamatie in die lasagne?
Die Maandagaand/ Dinsdagoggend was ‘n nagmerrie want ek kon weens die erge pyn nie slaap nie, en ek moes op my boude badkamer toe seil. Ek het my vrou byna tot raserny gedryf! Die volgende dag moes ek gaan vir ‘n inspuiting en X-strale want dit het gevoel of my voet gebreek was, wat gelukkig nie die geval was nie.
Na ‘n dag se rus is dit nou weer skouer aan die wiel – Back to work, back to reality.
Redakteur oor en uit!
