School sportSport

Monnas palm Beeldtrofeë in

Hoërskool Monument maak ondersteuners trots tydens vanjaar se rugbyseisoen.

“Rugbytrots.”

Dit is hoe afrigters en kapteins van Hoërskool Monument hulle rugbyspanne beskryf nadat die o.15- en o.16-span in die makroskole-afdeling daarin kon slaag om as wenners van onder andere die Beeldtrofee van die rugbyveld af te stap.

“Ons as ‘n span het mekaar gerespekteer en na maniere gekyk hoe ons onself op die veld kan verbeter” — Justin Brandon, o.16-span kaptein

Frikkie Spangenberg en Werner van den Berg, afrigters van die o.15-span sê daar was van die begin af toewyding omdat die seuns op verlede seisoen wou verbeter en toe onoorwonne uit die stryd kon tree.

“Hulle het van die begin van die seisoen af geluister as ons praat en was gedissiplineerd.”

Frikkie erken dat elke wedstryd steeds taai was en dat skole soos Paul Roos Gimnasium hulle uitgetart het, maar die seuns is nie maklik deur hulle geïntimideer nie.

Hy sê toe die seuns die Beeldtrofee vashou nadat hulle vir Hoërskool Eldoraigne met 19 teenoor 3 geklop het in die droomseisoen waarin hulle ook die kampioene van die NuPower Tuksreeks en Goue Leeus was, was hy ‘n bietjie emosioneel oor al die prestasies.

“Ek kon na die wedstryd nie veel praat nie, want ek het geweet hoeveel moeite die seuns in elke oefensessie ingesit het en nou pluk hulle die vrugte daarvan.”

Vir MJ Pelser, die kaptein en agtsteman is die feit dat hulle volgens die Suid-Afrikaanse Rugby Unie se ranglys as die beste o.15-span in Suid-Afrika gekroon is, iets besonders.

“In die begin het ek vir my spelers gesê dat dit nie saak maak as ons verloor nie; dit gaan daaroor om dit te geniet. Toe verras hulle my en wen elke liewe wedstryd.”

Rinus de Jager en Jakkie van der Walt, afrigters vir die o.16-span wat volgens die Suid-Afrikaanse Rugby Unie se ranglys die vierde beste o.16-span in Suid-Afrika is, het die seisoen moeilik begin.

Die o.16 span in aksie teen een van hulle wedstryde in vanjaar se kragmetings. Hier is losskakel Ivan Smit en staatmakerslot Jacques Roberts besig om die bal te verdedig.
Die o.16 span in aksie teen een van hulle wedstryde in vanjaar se kragmetings. Hier is losskakel Ivan Smit en staatmakerslot Jacques Roberts besig om die bal te verdedig.

“Ons as ‘n spannetjie het na die tweede skooltermyn saam besluit oor wat ons kan doen om onsself te verbeter.

“Dit is altyd ‘n pluspunt as jou spanlede na jou luister en in jou as afrigter glo. Ek dink dit is wat ons so suksesvol gemaak het,” sê Rinus.

Die o.16-span het teen Hoër Tegniese Skool Middelburg, verlede jaar se kampioen te staan gekom. Dié span het vroeër vanjaar die NuPower- en Leeus-titel ingepalm, maar het geweet dat Monnas sterk teenstand sou bied.

Met ‘n agterstand van 10 teenoor 14 teen rustyd sou ondersteuners vergewe word as hulle onrustig gevoel het.

Justin Brandon, die kaptein en haker, se manne het egter ander idees gehad en het die tweede helfte totaal oorheers om uiteindelik met 27 teenoor 14 te wen.

Justin sê die sukses wat hulle op die veld gehad het, kom van harde werk op die veld én van die veld af.

“Ons as ‘n span het mekaar gerespekteer en na maniere gekyk hoe ons onself op die veld kan verbeter.”

Hy sê ook dat hulle sonder die ondersteuning van die skool nie so suksesvol sou kon wees nie.

Hoërskool Monument se eerstespan is tiende en die o.14-span negende op die Suid-Afrikaanse Rugby Unie se ranglys.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button