Dissipline en fokus is wat ‘n goeie fietsryer van ‘n fietsrykampioen onderskei.
Chane Jonker ry al sewe jaar fiets en oefen ses dae ‘n week om die beste te kan wees in haar sport. Haar toewyding en harde werk is onlangs beloon toe sy by die 2017 Gauteng Provinsiale Pad- en Tydtoetskampioenskappe in Boksburg met die wentrofee weggestap het.

Die individuele tydtoets wat 30 kilometer se harde trap geverg het, het haar ‘n oorwinning in die sak gebring. Volgens Chane het sy die wedren met meer as ‘n minuut gewen.
Die padwedren is die volgende dag oor ‘n strawwe 120 kilometer gehou waartydens die wind baie sterk was. Chane het besef dat sy sou moes uitblink, wat sy wel gedoen het, en het met ‘n tweede gouemedalje weggestap.
“Daar is geen kortpaaie na oorwinning nie,” het Chane gesê.
Volgens Chane neem sy al ‘n paar jaar aan internasionale fietswedrenne deel en word so aan hoë standaarde blootgestel. Sy wil graag binne die volgende paar jaar aan die wêreldkampioenskappe deelneem en haar droom is om in 2020 aan die Olimpiese Spele deel te neem. Sy berei haarself tans voor vir die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe wat vroeg in Februarie plaasvind.
Lees meer hier
Begfietswedren vir fondsinsameling
