Arm boksers met groot drome
Die boksers is besig om voor te berei vir die groot ope bokstoernooi, maar het toerusting nodig.

Terwyl die son oor die stowwerige terrein opkom, hardloop ‘n groep natgeswete boksers met hul kappie-baadjies deur Pangokamp.
Hugo van Niekerk, hulle afrigter, staan arms gevou en wag vir die groepie wat met motiverende musiek in hul ore en stukkende tekkies aangedraf kom.
Hugo en ‘n handjievol ander inwoners van die destydse informele nedersetting by Kroningspark het in 2015 in die Pangokamp in Munsieville gaan woon nadat die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit hulle opdrag gegee het om die park te ontruim.

Die meeste van die Pangokamp-boksers gaan na hul drafsessies werk toe, maar om 6nm gaan hulle weer draf.
Daarna begin die harde werk. Eers word die materiaal van die ou bokssak afgefoeter en dan word daar op voetwerk gekonsentreer.
Die materiaal dop nie net van die bokssak af nie, maar ook van die voorkant van die bokshandskoene.
Maar, die afgedopte punte kan steeds houe plant.
Hugo het vertel dat die doel van sy boksgroep is om die kinders van dié arm gemeenskap uit die moeilikheid te hou.
“Party van die ouens wou begin boks om selfverdediging te leer omdat hulle klein is en geboelie word,” het Hugo gesê.
“Ons leer nie die kinders om terug te boelie nie, maar eerder om teen ‘n boelie op te staan. Ons leer hulle respek en deursettingsvermoë.”
Die boksers is besig om voor te berei vir die groot ope bokstoernooi wat Saterdag, 9 September by Princess High School gaan plaasvind.
Die groep is nog klein, maar daar is groot belangstelling in die kamp. Al wat die groep nodig het, is borge en toerusting.
Vir meer inligting en om uit te vind hoe jy die boksers kan help, skakel Hugo van Niekerk by 084 689 3356.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
