Editor's choiceLocal sportSport

Jong gimnas droom groot

'Ek wil aan die Olimpiese Spele deelneem'

Sy is slegs 10-jaar oud, en het alreeds Senior Sentraal Gauteng-kleure vir Euro-trampolien, sowel as Akro-gimnastiek verwerf.

Diané Kriek is een van 24 Seven Gymnastics en Trampoline Klub se studente, en het die afgelope jaar baie goeie prestasies behaal.

Diané Kriek is in haar element op die springmat.

Luitha Roux, haar afrigter het gesê dat sy ongelooflik trots op Diané is, en dat haar goeie prestasies die resultaat van harde werk en deursettingsvermoë is. “Dit was die eerste jaar dat sy aan Akro-gimnastiek deelgeneem het, en sy het nie net op ‘n hoër vlak deelgeneem nie, maar ook Senior Sentraal Gauteng-kleure verwerf, wat ‘n ongelooflike goeie prestasie is,” het sy gesê.

Diané was een van die klub se beste presteerders, en het die volgende toekennings tydens die klub se prysuitdeling verower:

• Die trofee vir die beste vordering in Akro-gimnastiek (Vroue – duet)

• Vrouegimnas van die Jaar vir Euro-trampolien (vlak vier)

• Gimnas van die Jaar vir Mini-trampolien (vlak twee)

Sy het by die Suid-Afrikaanse kampioenskape vir deelname aan die Zone-kampioenskappe in Namibië –

• Die Triple Threat-trofee ontvang omdat Senior Sentraal Gauteng-kleure in Akro-gimnastiek en Euro-trampolien, asook Junior Sentraal Gauteng kleure vir minitrampolien aan haar toegeken is

• Die algehele Gimnas van die Jaar-titel ontvangSy het aan ongeveer 12 kompetisies – op klub-, streek- en nasionale vlak – deelgeneem en was ook die klub se toppresteerder by die Arnold Classic waar sy drie medaljes ingepalm het.

Diané se ma, Tania het vertel dat sy voorgestel het dat haar dogter gimnastiek probeer. “Sy het wawiele gedoen nog voordat sy kon loop, en nadat sy ander sportsoorte probeer het, het ek haar gevra of sy nie gimnastiek wou probeer nie. Sy het daarmee begin toe sy ses jaar oud was, en neem die afgelope twee jaar aan trampolien, en een jaar aan Akro-gimnastiek deel,” het sy gesê.

Diané Kriek met haar toekennings.

Sy het bygevoeg dat hulle baie trots op Diané is. “ Ek glo Diané het ongelooflik baie talent, maar sy steek dit soms weg. En, alhoewel Luitha baie groter planne as ek vanjaar vir haar het, sal ons altyd daar wees om haar te ondersteun,” het Tania gesê.

Diané se grootste droom is om eendag aan die Olimpiese spele deel te neem, maar voordat sy dié droom kan bewaarheid, het haar afrigter eers ‘n paar ander korttermyn-doelwitte vir haar in gedagte. “Ons gaan hierdie jaar definitief na ‘n hoër vlak in Euro-trampolien en Akro-gimnastiek beweeg, en sy gaan ook met die dubbeltrampolien begin,” het Luitha gesê.

Maar, hoe voel Diané hieroor? “Ek is baie opgewonde en voel gereed vir die nuwe uitdagings. Ek glo dat jy altyd hard moet werk, en nooit opgee nie. Dit is al hoe jy jou drome sal kan bewaarheid,” het sy met ‘n glimlag afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button