Geliefde boksafrigter sterf
Ouboet was baie geliefd in die dorp en in die bokswêreld, en sal vir baie dinge onthou word.
Dit is met groot hartseer wat familie en vriende onlangs moes afskeid neem van ‘n welbekende boksafrigter in die dorp. Ouboet Gouws het nie net boks afgerig nie – hy het dit geëet, geslaap en geleef.
Op Vrydag, 26 Januarie is Ouboet in die gemak van sy huis op die ouderdom van 79 jaar van sy pyn verlos is. Volgens sy jongste dogter, Susan da Silva is Ouboet ongeveer drie jaar gelede met kanker gediagnoseer.
“Vir daardie drie jaar het hy geweier om te glo dat hy siek is, en hy het behandeling geweier. Hy het nietemin gedoen waarvoor hy die liefste was vir so lank as wat sy gesondheid hom toegelaat het,” het sy vertel.
Vir ongeveer 49 jaar was hy ‘n boksafrigter en het volgens Susan sy hele lewe aan die Krugersdorp-Wes Boksklub gewy.
“Hy het dit egter op so ‘n manier gedoen dat hy geensins sy familie afgeskeep het nie. Alhoewel hy vreeslik op sy boksers gesteld was, was hy steeds altyd daar vir sy familie, en het graag sy tyd gegee,” het sy gesê.
Sy het vertel dat hy onthou sal word vir sy groot liefde en geduld met kinders, asook vir alles wat hy bereik het in dit waarvoor hy lief was. In sy leeftyd is hy verskeie kere op provinsiale en nasionale vlak as afrigter gekies, en het ook sy Springbok-kleure verwerf.
Susan glo dat Ouboet se liefde vir boks deur een van sy kleinseuns, Richard sal voortleef.
“Hy het ‘n baie groot rol in sy kleinkinders se lewens gespeel – veral Richard s’n. My pa het hom van kleins af geleer boks. Sou Richard ‘n geveg wen, het hy altyd sy oupa in die kryt ingenooi om sy toekenning aan hom te oorhandig,” het sy gesê.
Ouboet was baie geliefd in die dorp en in die bokswêreld, en sal vir baie dinge onthou word.
“Hy het net ‘n manier gehad; hy was altyd vreeslik nederig. Almal het hom vanselfsprekend gerespekteer – hy was streng, maar tog sag. Ons is baie hartseer, maar ons is bly hy’s verlos van sy pyn,” het Susan gesê.
Ouboet word oorleef deur sy vrou Sue, vyf kinders, 12 kleinkinders, nege agterkleinkinders, en twee wat op pad is.
Sy begrafnisdiens word hierdie Vrydag, 2 Februarie by die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in Rustenburgweg 111, Krugersdorp-Wes gehou.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
