Vinnige Marno is die beste
Die knapie moet mooi dopgehou word, anders hardloop hy dalk net vir jou weg!

Die jong Marno Bouwer van Laerskool Muldersdrif kan deesdae spog dat hy die vinnigste o.11-atleet in Suid-Afrika is as dit by die 1 200m kom.
Marno neem van verlede jaar af aan die 1 200m deel, en het dit vanjaar in drie minute en 44 sekondes afgelê. Hy het vertel hoe hy gevoel het net nadat hy die wentyd behaal het.

Foto: Natasha Pretorius.
“Ek was baie bly om klaar te wees want ek was baie moeg!”
Hy het gesê dat hy van Maandae tot Vrydae baie hard oefen, en soms selfs op Sondae.
“Marno se harde werk het gewys. Van die begin van verlede seisoen af het hy hard gewerk en dit het alles op sukses uitgeloop. Hy gee altyd net sy beste – of dit sport of akademie is. Dit is die soort mens wat hy is,” het Wessel Lötter, die sporthoof by Laerskool Muldersdrif vertel.

