Yolandie maak naam by Arnold Classics
Die 40-jarige Yolandie Botha was 'n paar jaar gelede 'n oorgewig-enkelouer wat moeilike tye beleef het.
Tydens ‘n baie moeilike tyd in haar lewe het die 40-jarige Yolandie Botha besluit om te begin oefen. Deesdae wen sy liggaamsboukompetisies.
Yolandie is ‘n kleuterskooljuffrou wat klas gee vir vyfjariges. Sy het vertel dat daar drie groot passies in haar lewe is – haar kinders, kuns en oefening.
Sy het jare gelede in Ierland gewoon en na haar egskeiding teruggetrek Suid-Afrika toe.
Sy wou graag saam met haar seuntjie rondhardloop en speel, en het besluit om te begin oefen.
Sy het vertel dat sy nog die eerste keer onthou toe sy by die gimnasium ingestap het.
“Dit was vir my vreeslik uitdagend, maar met die regte ondersteuning is enigiets moontlik.”
Yolandie het vertel dat haar ouers en die liefde van haar lewe, Brandon Roode, haar ondersteun en dat Brandon haar grootste aanhanger is.
Na ‘n ruk het iemand haar gevra of sy sal belangstel om aan liggaamsboukompetisies deel te neem en in 2017 het sy vir die eerste keer gekompeteer.
Tydens haar eerste kompetisie, die International Federation of Bodybuilding and Fitness (IFBB) Millenium Gold Plate in 2017, het sy onder die top 10 geëindig. Daarna het sy aan die Boksburg Classic gaan deelneem en gewen, wat haar laat kwalifiseer het vir die 2018 Arnold Classic Africa-kompetisie.
In Augustus 2017 het sy haar provinsiale kleure gekry en later dieselfde jaar het sy by die IFBB Suid-Afrikaanse Kampioenskappe ‘n sesde plek verower.
Sy kon verlede jaar weens omstandighede nie aan die Arnold Classic deelneem nie, maar het besluit om vanjaar weer voluit te oefen en te kompeteer.
Sy het in Maart vanjaar weer aan die Millenium Gold Plate-kompetisie deelgeneem en ‘n tweede plek in die liggaamsfiksheidkategorie behaal. Die IFBB het haar toe uitgenooi om aan die 2019 Arnold Classic Africa te gaan deelneem.
Op 17 Mei het sy ‘n vierde plek by die Arnold Classic Africa-kompetisie in Sandton verower.
Haar doelwit is nou om hard te oefen sodat sy volgende jaar haar nasionale kleure kan kry.
Yolandie se raad aan mense wat wil begin oefen is om nie limiete vir jouself te stel nie. Sy het verduidelik dat enigiets moontlik is solank jy glo dit is.
En wat eet Yolandie as sy met haar dieet wil kul?
“Ek is ‘n koeksistermonster; die dag as ek ‘n koeksister wil eet, eet ek sommer die hele pak,” het sy laggend vertel.

