Local sportSport

126 jaar van rugby vir Harlequins

Die Harlequins Rugbyklub in Burgershoop bestaan al 126 jaar en daar is nog groot planne vir dié klub.

Sedert September sit miljoene mense vasgenael voor hul televisieskerms om hul span te ondersteun wat aan die 2019 Rugbywêreldbekertoernooi deelneem.

Maar dié manne wat elke wedstryd hul harte uitspeel, moes ook êrens begin het.

Hier in Krugersdorp speel die spelers van die Harlequins Rugbyklub, een van die oudste Harlequins-klubs in die land, ook hul harte uit met elke wedstryd.

In Augustus het die Harlequins hul 126ste bestaansjaar gevier. Sestien jaar gelede het hul naam verander van die Wes-Rand Rugbyklub na die Harlequins Rugbyklub.

Dit is egter soms die vergete klub. So sê Okkie Olivier wat al 12 jaar die voorsitter van dié klub is. Hy het vertel dat hulle vir die seuns in die omgewing ‘n bietjie van ‘n wegbreek bied.

Die seuns het dit dalk nie altyd maklik by die huis nie maar elke Dinsdag en Donderdag van 6.30nm tot 8nm kan hulle saam met hul rugbyfamilie kom oefen.

Enige speler van onder agt tot by die oop spanne is welkom om by hulle aan te sluit. Hulle is tans besig met ‘n sewestoernooi in Pretoria en hulle eerstespan het vanjaar in die Goue Leeus Rugby Unie-liga naelskraap teen Germiston Simmers in die finaal verloor.

Die visie vir dié klub, het Okkie vertel, is om ‘n sportakademie op die been te bring waar hulle ook sagtebal, netbal en hokkie wil aanbied. In dié stadium rig hulle rugby, sokker en boks by die klub af.

Om hierdie visie ‘n werklikheid te help maak, bied hulle op 26 Oktober ‘n kermis van 9vm tot 5nm by hul klub aan. Toegang is gratis. Daar gaan ‘n Mnr en Mej Quins-kompetisie, ‘n bokstoernooi, 67 stalletjies, ‘n hondeskou en ‘n colour run wees, en sangers gaan optree.

Op 12 November bied hulle ook ‘n gholfdag by die Krugersdorp-gholfbaan aan. Daar is nog vierballe beskikbaar en as iemand ‘n putjie wil borg, kan hulle die klub kontak.

Enigiemand wat meer oor die klub wil uitvind, kan vir Ragel Jardin skakel by 083 375 5347.

Die klub wil graag weer die trots wees wat hulle voorheen was, en vra vir die gemeenskap se hulp.

“Gaan ons regtig so ‘n ou klub laat doodgaan? Wanneer sport in ons dorp uitsterf, gaan dit nie die misdaad laat meer word nie?” het Okkie gevra terwyl hy met passie praat oor die voortbestaan van die klub.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button