Gholf is weer deel van Rudi
Na Rudi Smous vir amper ses jaar nie op 'n gholfbaan was nie, is hy uiteindelik weer die geleentheid gegun en hy sê hy voel weer heel.
Gholf is deel van sy wese, het Rudi Smous vertel daar waar hy op ‘n bank in die Christian Lifesavers se kantoor sit.
Rudi het ‘n paar maande gelede op die organisasie se stoep beland nadat hy in Krugersdorp kom werk soek het en geen ander heenkome gehad het nie.
As kind het Rudi en sy boetie hul eie gholfbane in die veld gebou en hy speel al gholf sedert hy ses jaar oud is.
Hulle het ook hul eie stokke van takke en enigiets anders gemaak wat hulle in die hande kon kry.
Op die ouderdom van 12 het hy begin lesse neem en by ‘n gholfklub aangesluit. Vir ‘n paar jaar was hy die meester van die gholfbaan en het baie goed gevaar.
In sy twintigerjare, het hy vertel, het hy die pad ‘n bietjie byster geraak, maar het later weer in Germiston gholf gespeel. Die lewe het egter wilde draaie met hom geloop en die pad het hom tot by Christian Lifesavers gebring. Sy liefde vir die sport het egter nooit verdwyn nie.
Na net twee weke by die organisasie het hulle gesien dat Rudi ‘n harde werker is en hy het in die kantoor begin uithelp. Hy het vir hulle vertel van sy liefde vir gholf en hoe hy as kind gespeel het. Die regte mense het dit gehoor en verlede week is Rudi met ‘n baie groot geskenk bederf.
The Cradle Super Seal het met trots na vore gekom om vir Rudi te borg met ‘n nuwe gholfstel, gholflesse, al die klere wat hy nodig het en ook ‘n kaartjie om die Nedbank Gholf Uitdaagtoernooi van 14 tot 17 November te gaan bywoon.
Lettie Scheepers van die maatskappy vertel dat alles wat hulle doen, gelei word deur die Heilige Gees en dat hulle trots is om die Here se hande en voete te wees.
Rudi het onlangs weer vir die eerste keer in ses jaar die gholfbaan betree en sê dit voel asof hy nooit weg was nie. Hy dank die Here vir die wonderlike dinge wat in sy lewe gebeur.

