Impala Gimnaste tops in Gauteng
Drie van die Impala Gimnastiekklub se lede het onlangs baie goed gevaar in nasionale trampolienkompetisies.
Nadat uitdunne in September en Oktober in die Wes-Kaap en Gauteng gehou is, het die Impala Gimnastiekklub van hul lede in Desember na die African Union Sports Council Region 5-kompetisie in Pretoria gestuur.
“Ons is besonder trots op die klub se drie spogspringers wat al drie podiumplekke ingeneem het,” het klubafrigter Linda Coetzer vertel.
Yolindi Mostert het weggestap met ‘n algehele goud, Cornique Marincowitz met ‘n silwer en Mincke Mostert met brons.
Die drie dogters gaan in Februarie saam met 30 ander Impala-lede aan die SA Cup-kompetisie deelneem.
“Tydens dié kompetisie word die gimnaste op ‘n ranglys van 10 tot een geplaas om te bepaal wie die top 10-gimnaste in die betrokke apparaat in Suid-Afrika is,” het Linda verduidelik.

