Local sportSport

VIDEO: 100km in net 12 uur vir liefdadigheid!

Sampie wou R20 000 insamel vir 'n gesin wie se huis en alles daarin in 'n brand vernietig is.

Alhoewel ons dit dalk nie altyd sal erken nie, snak die meeste van ons na ons asems wanneer ons net dink aan ‘n paar kilometer se draf. Wat dan nog van 100 kilometer in een dag!

Dit is presies wat Sameul (Sampie) Cornelius op Saterdag, 14 November van die oggend tot die aand gedoen het.

Sampie het ‘n soortgelyke uitdaging in April aangepak toe hy 72 kilometer in ‘n voortuin gedraf het om geld in te samel vir Cradle of Hope.

Omdat die spasie die vorige keer so knap was, het hy dié keer dinge vir homself makliker gemaak deur by die Run Zone West Rand-klubhuis ‘n 400 meter lange roete te draf. Hy het dit ook moeiliker gemaak omdat die afstand langer was. Die rede hoekom hy weereens sy uithouvermoë wou toets, was om iemand na aan hom uit ‘n vreeslike moeilike situasie te help.

Daar was brandstigting by hul huis en hulle het alles verloor,” het hy vertel toe hy ‘n blaaskans tydens sy drafsessie geneem het. “Dis ‘n seuntjie en ‘n dogtertjie, ‘n man en ‘n vrou in Heidelberg.”

Hy het beoog om so R20 000 in te samel want, “Dan kan hulle ten minste alles kry wat hulle wil hê. Hulle het alles verloor – beddens, klere, speelgoed, kos … alles.”

Sampie Cornelius draf 100km in 12 uur om R20 000 in te samel. Foto: Jaco Human.

Sampie het deurentyd sy vordering met twee fiksheidshorlosies gemeet en het na 11 uur en 42 minute reeds 102,3 kilometer afgelê teen ‘n gemiddelde tempo van ses minute en 52 sekondes per kilometer. Hoewel sy hele lyf hom die volgende paar dae aan dié merkwaardige afstand herinner het, het dit gelyk of hy dit sonder veel moeite met net kort ruskansies tussenin gedoen het.

Deur die loop van die dag het vriende, familie en ander Run Zone-lede hom ondersteun, ‘n entjie saamgedraf en vir hom kos, koeldrank en ys gevat. Sy vrou en dogter het heeldag langs die baan gestaan om vir hom moed in te praat.

Sampie beplan om ‘n uitdaging soos dié twee maal ‘n jaar te doen om fondse in te samel vir verskeie liefdadigheidsorganisasies.

“Ek wil net dankie sê vir almal wat my ondersteun en gehelp het, en ook die mense wat ek nog nooit gesien het nie wat vir my koeldrank gebring het. Dankie vir die Here wat my die talent gegee het om te hardloop, en ook vir baie ander goed. Daardeur help ek mense.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Back to top button