Norie-atlete ding op nasionale vlak mee
Laerskool Krugersdorp-Noord se atlete wat vanjaar aan die nasionale atletiekkampioenskappe in Potchefstroom deelgeneem het, het baie goed gevaar.
Van Laerskool Krugersdorp-Noord se topatlete het aan die Nasionale Laerskole Baan- en Veldkampioenskappe op 25 en 26 Maart by die Puk McArthur Stadion in Potchefstroom deelgeneem.
Wat vir die o.12-atleet Taya Pelser die meeste bybly van hierdie atletiekseisoen is haar persoonlike beste tyd van 3 minute 51 sekondes wat sy by die provinsiale kampioenskappe bereik het. By die nasionale kampioenskappe in Potchefstroom het sy tweede in die 1 200m geëindig.

Die o.13-atleet Iwan Oosthuizen het vertel dat hy al sedert Graad 1 baie ernstig aan atletiek deelneem en dat hy goed gevoel het oor die seisoen. Dit het egter nader aan die nasionale kampioenskappe begin moeiliker word. Iwan het aan die 80m hekkies deelgeneem en vyfde in die semifinaal geëindig.

Nadia Strydom, ook ‘n o.13-atleet het vertel dat dit by die provinsiale kampioenskappe vir haar moeilik was omdat sy aan drie items wou deelneem, maar van hulle moes afskeep omdat hulle vir dieselfde tyd geskeduleer was. Nadia het tydens die nasionale kampioenskappe aan die spiesgooi deelgeneem en ‘n sesde plek behaal.

