Goud vir RCFA-skopboksers in Potch
Die Ring Contact Fighting Art (RCFA) Skopboksklub het onlangs drie goue medaljes verower tydens die All Out War Nasionale Skopboks Kampioenskappe in Potchefstroom.
Lede van die Ring Contact Fighting Art (RCFA) Skopboksklub in Kenmare het onlangs teruggekeur met ‘n hand vol goue medaljes.
Die klub het onlangs ‘n span van 12 na die All Out War Nasionale Skopboks Kampioenskappe geneem wat verlede maand in Potchefstroom plaasgevind het.
Sensei Frik du Preez het aan die News vertel dat Darius Coetzee, Tiaan Nieuwoudt en Daniel Bataille elkeen ‘n goue medalje gewen het. Die klub het boonop eerste geëindig in die beginner afdeling en tweede in die gemengde afdeling.

Sewe van hul lede vorm ook deel van die Gauteng-span wat op 27 Mei in aksie gaan wees.
In Februarie het die klub ook aan die Highveld At War-toernooi deelgeneem en algeheel sesde geëindig.
Sensei Frik en Annelie du Preez het in November verlede jaar die klub geërf en vertel dat hulle van toe af baie gedoen gekry het. Hulle vegters sit elke week twee oefensessies in. Die wat in die Gauteng-span opgeneem is oefen op Saterdae ook.
Die 13 vegters wat deelgeneem het is Armand du Plessis, Darius Coetzee, Tiaan Nieuwoudt, Daniel Bataille, Jaydin Venter, Kara du Preez, Lea du Preez, Yannica du Preez, Salacia du Preez, Sonia Engelbrecht, Yolande van der Walt, Eurika van der Watt en MH du Toit.
Frik en Annelie rig die juniors tot en met 18 jaar af en Shihan Alfred Grünenberg die seniors. Dit sluit wapen-geveg, semi-kontak en kata-reekse in. Die klub se jongste vegter is ses jaar oud en hul oudste 60 jaar oud.
