School sportSport

Witbulle bo in Krugersdorp derby

Duisende in Krugersdorp het by Hoërskool Noordheuwel opgedaag om die kookwater-derby tussen Nories en Monnas te aanskou.

Hoërskool Monument se Witbulle (eerste rugbyspan) het sy aartsvyand Hoërskool Noordheuwel geklop in hul agterplaas met ‘n telling van 28–17 tydens ‘n witwarm ligawedstryd in die Noordvaalbekerkompetisie vir makroskole op Saterdag, 20 Mei.

Byna die hele Krugersdorp het opgedaag om die derby te aanskou en was daar na verwagting duisende mense.

• Lees ook: Wat ‘n derby! Wit Bulle byt vas teen vasberade Nories

Die harde werk en grondslag vir ‘n oorwinning was reeds in die eerste helfte gedoen met Monnas wat gemaklik 28–3 voorgeloop het. Nories se verdediging was net nie goed genoeg nie en is dit behoorlik uitgebuit deur Monnas se agterlyn. Moet natuurlik nie van die
Monnas-voorspelers se harde werk vergeet nie. Hulle was kookwater.

Jody Schambreel van Monnas in aksie. Foto: Clinton Botha.
Zain Henery, binnesenter van Monnas se eersterugbyspan, het onder die pale gaan druk. Foto: Clinton Botha.

Die tweede helfte was wel ‘n ander saak en is daar duidelik hard gepraat in die Norie-kleedkamer. Monnas moes selfs ‘n paar minute op die veld wag vir sy opponent om terug te kom. Nietemin, Nories het in die tweede helfte goed terug geveg om die telbord beter te laat lyk. Dit het selfs hier teen die einde gelyk of hulle ‘n haas uit die goed gaan trek, maar dit was net nie hul dag nie met te veel foute wat deurggeglip het op kritieke tye.

‘n Norie breek deur ‘n gaping.
Coun-Lee Koekman van Nories.

WP Laidlaw, Nories se adjunkhoof van sport het juis na die wedstryd gesê, “Ons het die wedstryd glad nie goed begin nie en dit is weens ons eie toedien.

Alles het net verkeerd gegaan, veral in die eerste helfte en Monnas het ‘n goeie voorsprong gekry.

“Ons wil nie verskonings maak nie maar dit was ook moeilike omstandighede vir die span met die eerste keuse binnesenter wat die oggend moes onttrek. Ons moes daar ‘n verandering aanbring. Boonop het ons ysterslot en die generaal in die lynstane vroeg seergekry en dit het ons lynstaan-spel ontwrig.

Die groot ding is die manne was bietjie angstig en soms te haastig. In die tweede helfte was die boodskap om net volgens die patroon te speel en toe gaan dit beter. Ons het op die einde geleenthede gehad maar dit nie gebruik nie en te veel foute gemaak.” Dit was Nories se tweede loesing in die liga nadat hulle onlangs ook teen Helpmekaar vasgeval het. Hulle pak eerskomende Saterdag, 27 Mei vir Menlopark tuis.

Stefan Uys van Monnas.
Jamaal Veldman en ‘n Norie veg vir balbesit.

Monnas se eerstespanafrigter Tjaart van der Walt, wat sy 100e wedstryd afgerig het, was in sy noppies en het gesê, “Ons is tevrede met die wen. Ons het ons vyf ligapunte gekry en dit was die belangrikste. Derby’s bring maar altyd daardie ietsie ekstra en ek voel ons seuns het mooi kopgehou. Ons het wel ‘n voorsprong gehad maar dissipline het ons gekos en het die twee geelkaarte ons ritme gebreek.”

Tjaart het bygevoeg dat Monnas se seisoen goed verloop sover. Dit was hul tweede ligawedstryd nadat hulle onlangs vir Nelspruit 41–20 geklop het. Hul spog boonop vanjaar met goeie oorwinnings oor Paul Roos (44–26) in die Noord-Suidtoernooi en Boland Landbou 37–26 tydens die Wildeklawer-toernooi in Kimberley. Hulle was dan ook onoorwonne tydens die Kearsney Collegetoernooi. ‘n Groot toets wag wel op Monnas se Witbulle eerskomende Saterdag, 27 Mei wanneer hulle vir Grey College (Bloem) in Monument pak.

ANDER UITSLAE:

• o14A: Monnas wen 12–3
• o14B: Nories wen 43–12
• o14C: Nories wen 41–22
• o15A: Nories wen 14–11
• o15B: Monns wen 57–10
• o15C: Monnas wen 17–5
• o16A: Nories wen 15–10
• o16B: Monnas wen 33–0
• o16C: Monnas wen 12–10
• Vyfde span: Nories wen 19–14
• Vierde span: Monnas wen 29–12
• Derde span: Monnas wen 21–16
• Tweede span: Monnas wen 31–12

 
Back to top button