Sport

Nories-atlete trots op hul prag-seisoen

Hoërskool Noordheuwel het 'n goeie atletiekseisoen beleef en is daar 'n hele paar uitblinker-atlete om dop te hou vir die toekoms.

Hoërskool Noordheuwel is trots op hul atletiekprestasies wat hulle tussen Januarie en Maart behaal het.

Nories het vanjaar derde by die NWU Supersprinter en Curro Podium-byeenkomste geëindig. Hulle het ook die tweede plek ingeneem tydens die Norie Top 15 atletiekbyeenkoms en spog met 24 medaljes, waarvan 10 goud, nege silwer en vyf brons is, wat tydens onderskeie SA Skole en Atletiek Suid-Afrika (ASA) Kampioenskappe en byeenkomste ingepalm is.

Jayden Fairlie in aksie tydens Hoërskool Noordheuwel se Top 15-atletiekbyeenkoms wie spog met ‘n eerste plek in beide die 100m en 400m vir seuns o14. Sy blitsige tyd van 51.02 in die 400m was juis een van die talle rekords verbeter op die dag.

‘n Paar atlete wat uitgeblink het, sluit in Kaylie van Oudtshoorn (drie goud en een silwer wenner), Hannah Hope Vermaak (drie goud en een silwer), Jessy Bekker (een goud, een silwer en twee brons), Caylen Jenkins (een brons), Aiden Bester (een silwer), Chane Fourie (een silwer), Hanri Pretorius (een goud en een silwer), Iwan Oosthuizen (een silwer), Jayden Fairlie (een silwer) en Jamoré Olivier (een brons).

Arno Graaf spog met sy medaljes.

Arno Graaf het ook aan die South African Sports Association for the Physically Disabled (SASAPD) Nasionale Kampioenskappe deelgeneem en twee rekords verbeter, naamlik ‘n skitter 38,88m in die spiesgooi en 10.65m in die gewigstoot. Hy het boonop goud in die diskus-item gewen.

Hannah Hope Vermaak in aksie tydens Hoërskool Noordheuwel se Top 15-atletiekbyeenkoms waar sy met ‘n eerste plek in beide die 100m en 200m vir dogters o17 gespog het.

Verder het Hannah vir die Wêreld Junior Atletiek Kampioenskappe gekwalifiseer en ‘n blitsige 11.72 sekondes gehardloop in die 100m tydens die SA Senior Kampioenskappe.

Nories se Iwan Oosthuizen gee sy alles tydens Hoërskool Noordheuwel se Top 15-atletiekbyeenkoms.

“Dit was ongelooflik! Atlete was bereid om so hard te oefen en het hul alles te gee waar hul ongeëwenaarde prestasies behaal het,” sê Arnold van der Merwe, atletiek-direkteur by Hoërskool Noordheuwel.

Check Also
Close
 
Back to top button