Hoërskool Noordheuwel het hul krieketseisoen op ‘n baie hoë noot afgesluit.
Volgens die hoof van krieket by die skool, Etienne Janse van Rensburg, het hul krieketseisoen einde Februarie tot ‘n einde gekom, en spog hul met ‘n puik seisoen agter die rug.
Etienne sê dat Nories 14 krieketspanne het, wat ‘n meisieskrieketspan ook insluit. Hy sê dat hul besonders trots is op dié span, omdat hulle die Noordvaalwenners was. Hy het bygevoeg dat ‘n lid van die span, Leani Swanepoel, ook deel van die Suid-Afrikaanse o19-oefenspan is.

Hy is ook baie beïndruk met hul eerste span, wat bestaan uit drie graad 10- en vier graad 11-leerders.
“Ons hoogtepunte was ons wedstryde teen King Edward VII School en St Stithians College, omdat dit sulke sterk krieketskole is. Ons is ‘n sterk groep, omdat ons baie oefen en dat ons, ons eie krieketakademie het. Ons het ook ‘n Suid-Afrikaanse o19-speler, Corne Botha,” het Etienne gesê.
Hy het bygevoeg dat die o15 en eerste span ook in die Paarl Boys Toernooi deelgeneem het, waar dit uitstekend geloop het. Hy sê dat hul drie uit die vier wedstryde gewen het, waar hul net met ‘n paar lopies verloor het tydens die vierde wedstryd.
“Ons het verlede jaar ook 17 spelers in die Sentraal-Gauteng Leeus-span gehad. Ek sien vreeslik uit vir die Fasken-toernooi waar ons ouer spelers teen die beste van die beste gaan deelneem. Ons wil soveel as moontlik jongmense ook betrek met die krieket, sodat ons ‘n passie vir die sport van jongs af kan kweek. Daar is selfs baie ‘old boys’ wat nogsteeds betrokke met Nories se krieket is,” het Etienne afgesluit.
