‘n Rugbklub net vir die ‘toppies’
Ontmoet die 'toppies' van Golden Eagles Oldies Rugbyklub waar jy jou vlerke op die rugbyveld kan sprei … al is jy 65.
Terwyl die meeste passievolle rugbyspelers se loopbane teen hul middel-30’s tot ‘n einde kom, hou die Golden Eagles Oldies Rugbyklub (GEORK) steeds hul spelers van 35 jaar en ouer aktief op die veld.
“Ek is 56 jaar oud en speel al vir jare rugby. Wanneer ek nie self gespeel het nie, was ek betrokke by afrigting. Die meeste van ons spelers is in dieselfde bootjie,” het die klub se woordvoerder, Archie ‘Kraai’ Fourie, verduidelik.
Volgens Fourie word daar elke maand ’n rugbyfees gehou deur verskeie rugbyklubs regoor Gauteng, en hierdie maand is dit GEORK se beurt om een aan te bied.

Hy noem dat die volgende fees, die Platteland Fees, op 10 Mei in Fochville plaasvind. Twaalf spanne sal aan die aksie deelneem, insluitend GEORK, die Western Lions, die Hillbilly’s en die Barbarians.
Die winste wat tydens die fees gegenereer word, gaan aan minderbevoorregte spelers met die oog daarop om hulle te help om aan die SA’s in September deel te neem.
“Dit is ’n baie duur onderneming wat vervoer, toerusting en verblyf insluit. Party van ons spelers kan dit eenvoudig nie bekostig nie, en daarom sien ons geweldig uit daarna om die fees aan te bied,” het hy gesê.
Hy het afgesluit deur te sê dat die klub tans met 97 aktiewe spelers spog, en hy moedig die gemeenskap aan om hul vlerke te sprei en by die span aan te sluit.
Besoek hul amptelike Facebook-blad hier of kontak Archie by 066 050 0061 indien jy belangstel.

