Sport

Jaydon staan op ná erge besering en hardloop SA aan die brand

Wanneer ’n mens vir Jaydon ontmoet en met hom gesels, sien jy ’n gemotiveerde jong atleet met onbeskryflike deursettingsvermoë en veggees.

Na ’n ernstige kniebesering was daar vrese dat Jaydon Fairlie, ’n Graad 9-leerder van Hoërskool Noordheuwel, moontlik nooit weer sou kon hardloop soos voorheen nie.

Maar dié jong uitstaande atleet het bewys dit gaan nie oor hoe jy val nie, maar oor hoe jy opstaan – en sy prestasies spreek boekdele.

Onder sy prestasies tel goud in beide items vir seuns o.16 tydens Atletiek Suid-Afrika (ASA) se byeenkoms by die Green Point-stadion in Kaapstad, asook nog twee goue medaljes by die SA Skole-atletiekkampioenskappe in Bloemfontein. Daarbenewens het hy die 200 m-rekord verbeter van 21.79 na 21.62 sekondes – ’n rekord wat sedert 2016 gestaan het.

Jaydon se vier goue medaljes en uitstekende tye vir ’n 15-jarige plaas hom tans 1ste in die 200 m en 3de in die 400 m op die wêreldranglys in atletiek vir sy ouderdom. Hy is intussen ook gekies om einde Augustus die Suid-Afrikaanse Cosassa-span te verteenwoordig in Eswatini (voorheen bekend as Swaziland).

Wat Jaydon se prestasies soveel meer uitmuntend maak, is dat medici gesê het dat hy dalk nie weer so sal kan hardloop nie, veral nadat hy ’n ernstige kniebesering in sy regterbeen opgedoen het tydens ’n rugbywedstryd.

Dié besering het sy Cravenweek-droom kortgeknip en hy moes dadelik geopereer word.

“Talle ortopeute wou nie opereer nie as gevolg van sy ouderdom en die gevaar om deur sy groeiplaat te werk. ’n Welbekende ortopeut was egter die antwoord op talle gebede, en hy het met behulp van ’n allograft ’n hamstringvesel by sy pa, Jacques Fairlie, geneem en die vesel gebruik om vir hom ’n nuwe ACL te bou,” het sy ma Cordelia Fairlie gesê.

Jaydon het selfs gelag en gespot deur te sê: “Dis hoekom ek so vinnig hardloop – ek hardloop met my pa se been.”

Jaydon Fairlie in aksie. Foto: Photofrog.

Na die prosedure het sy intense rehabilitasiepad begin. Medici het gesê dat Jaydon moontlik eers ná nege maande terug op die atletiekbaan sou wees om weer te begin oefen, maar dat dit dalk vir hom moeilik gaan wees om weer te kan hardloop soos hy voor die besering gehardloop het.

Enigiemand wat egter vir Jaydon ken, sal weet dat opgee nie deel is van sy DNS nie. Hy het net gesê dat hierdie terugslag nie sy drome sal steel nie, want by ons God is niks onmoontlik nie.

Met intensiewe rehabilitasie en ná net sewe maande was Jaydon volstoom terug op die atletiekbaan.

“Was dit maklik? Definitief nie. So baie dae wou ek net in die donker gat bly lê. Maar my geliefdes het my in die moeilike tye ondersteun en my herinner dat ek twee opsies het – gee op of baklei vir jou drome. As ’n Christen besef ek dat my geloof my nie vrywaar van moeilike tye nie, maar as ’n Christen weet ek ook dat God my nooit alleen sal los in moeilike tye nie – en Hy het nie!” sê Jaydon.

“Ek sal dus elke wedloop op my knieë begin – nie om te vra vir sukses nie, maar om dankie te sê vir nog ’n geleentheid om te kan hardloop, omdat ek presies weet hoe vinnig iets waarvoor ’n mens so lief is, weggeneem kan word.”

Sy advies vir atlete wat deur ‘n besering gaan is die volgende …

“Alles in die lewe gebeur met ’n doel! Wie jy is, word nie bepaal deur die hoeveelheid rekords wat jy hardloop of die hoeveelheid medaljes wat in jou kas hang nie. Jy is soveel meer as jou prestasies. Onthou altyd: The setback makes the comeback so much sweeter. Vat dit dag vir dag.”

Wanneer ’n mens vir Jaydon ontmoet en met hom gesels, sien jy ’n gemotiveerde jong atleet met onbeskryflike deursettingsvermoë en veggees. Wat ’n mens egter die meeste opval van Jaydon, is sy geweldige nederigheid – ’n plat-op-die-aarde knaap.

“Wat Jaydon bereik het, is ongetwyfeld ’n wonderwerk van bo. Ons as familie en sy vriende wens hom alle sterkte toe vir Swaziland. Ons weet dat jy Suid-Afrika se naam hoog gaan hou.”

*This article was amended after it was published. Apologies for any confusion caused — Ed.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button