Bastion blink uit: Twee wennerspanne én sterspelers vir Spanje gekies
Hoërskool Bastion rugbyspelers het die oë laat rek tydens Rhino Week met twee afdelingswenners en twee spelers op pad Spanje toe.
Hoërskool Bastion se rugbyspelers het behoorlik indruk gemaak tydens die gewilde Rhino Week-toernooi wat onlangs in Vanderbijlpark plaasgevind het.
Volgens Bastion se bemarker, Florinda Hearn, het drie ouderdomsgroepe – o.15, o.17 en o.19 – vroeg in Julie vir die Sentraal-Wes-spanne aksie gesien. Dié spanne is saamgestel uit spelers van agt verskillende skole, waarvan Bastion een is.
“Die spanne het nie net deelgeneem nie, maar uitgeblink. Beide die o.15- en o.17-spanne is as wenners van hul afdelings gekroon, terwyl die o.19-span ’n indrukwekkende tweede plek behaal het teen sterk kompetisie. Hierdie uitslae is ’n duidelike bewys van die harde werk, spanpoging en toewyding van elke speler en afrigter,” het Florinda gesê.

Sy het bygevoeg dat die hoogtepunt van die week beslis die aankondiging was dat twee van hul sterspelers, Thorisa Yumba en JC Muller, gekies is vir die Rhino-span wat in Desember vanjaar aan ’n internasionale toernooi in Spanje gaan deelneem.
“Ons is ongelooflik trots op hierdie twee jong manne wat nou die geleentheid het om Suid-Afrika op die wêreldverhoog te verteenwoordig,” het sy gesê.
“Ons wil elke speler, afrigter en ondersteuner bedank wat hierdie prestasie moontlik gemaak het. Sentraal-Wes het gewys dat ons nie net meeding nie, maar presteer. Ons sien uit na nog vele sulke oorwinnings in die toekoms,” het sy afgesluit.
