Nienke (11) blink uit in ringbal ná slegs ’n paar maande in die sport
Ringbal het nie net ’n jong leerder van Laerskool Krugersdorp-Noord selfvertroue gegee nie, maar haar ook ’n plek in die SA-uitnodigingspan besorg.
Nienke Bothma (11) van Laerskool Krugersdorp-Noord, wat vanjaar eers met ringbal begin het, is onlangs vir die SA-uitnodigingspan gekies tydens die SA-kampioenskappe in Pretoria.
Die span wat sy verteenwoordig het, het boonop die kampioenskap gewen.
Nienke sê sy het die sport aangepak nadat ’n vriendin haar gevra het om dit te probeer.
“Ek pluk nou die vrugte van al my harde werk en is so trots,” het sy gesê.
Sy beplan om haar drome verder te volg en hoop om volgende jaar weer die span te haal, sodat hoërskole haar kan raaksien.
“Ek is so trots op Nienke. Sy het baie deursettingsvermoë en kan nog baie vermag as sy haar op iets toespits. Sy’s lieflik, binne en buite,” het haar ma, Sulette, gesê.
