Monnas lok 800 bergfietsryers vir Gauteng-wedren
Hoërskool Monument het met groot sukses die laaste Cycle Lab Gauteng MTB Series-wedren aangebied, met 800 deelnemers en ’n uitdagende selfgeboude baan.
Hoërskool Monument het honderde bergfietsryers onlangs gelok vir die Cycle Lab Gauteng MTB Series.
• Also read: Echoes of Krugersdorp: More than a century of history at Monnas
Monnas bergfietsorganiseerder, Tania Kelfkens, het vertel dat daar ongeveer 800 ryers van regoor Gauteng deelgeneem het. Dit was die finale Gauteng-wedren uit vyf, voor die Nasionale Kampioenskappe in Piet Retief tussen 3 en 5 Oktober.
“Hoe beter plek jy behaal, hoe meer punte kry jy en jou skool. Die top-10 skole se seuns en dogters gaan na die Nasionale Kampioenskappe. Monnas se seunsspan was 10de en kwalifiseer om by die Nasionale Kampioenskappe deel te neem.
Ons het ses ryers wat Nasionale Kampioenskappe toe gaan,” het Tania gesê.
Die dag was vir hulle ‘n ongelooflike voorreg om aan te bied.
“Dit was baie harde werk en vir twee maande het die bergfietsouers, ryers en personeel gehelp om die ‘rock garden’ en brûe te bou, plante te plant en die baan uit te lê. Dit was ‘n droom om ons eie baan te hê waar ons veral vaardighede vir ons ryers eerstehands kan leer en oefen. Die hoogtepunt was almal se ervaring van die dag, baan en waardering vir wat ons gedoen het om dit ‘n lekker dag te maak,” het sy verduidelik.
Monnas het reeds vroeër daardie week saam met die Cycle Lab-span begin om die baan toe te span, stalletjies op te sit en die ryers kon die dag voor die tyd vanaf 14:00 tot 17:00 die baan ry ter voorbereiding vir die Saterdag.
Die dag het al 05:00 afgeskop en die eerste wedren het 07:30 weggespring. Die program het 16:45 klaargemaak, en Tania het genoem dat die matrieks se ererondte die trane laat rol het.
Ek is so trots op ons ouers, ryers en personeel vir wat ons vermag het. Alles het so mooi afgeloop.
“Mens kan ‘n droom hê, maar as mense nie saam met jou inkoop daarin nie, word dit nie bewaarheid nie. Dit was voorwaar ‘n spanpoging. Die Skepper het beslis Sy hand op ons dag gehou,” het sy afgesluit.

Die wenners is as volg:
• Junior-afdeling vir seuns o.17: EW du Toit van Teneo High School
• Junior-afdeling vir dogters o.17: Helen Olwage van Hoërskool Waterkloof
• Junior-afdeling vir seuns o.18 en o.19: Jayden Naude van Hoërskool Randburg
• Junior-afdeling vir dogters o.18 en o.19: Chanel Orr van Hoërskool Kempton Park
• Sub-junior-afdeling vir seuns: Ruan Kooi van Hoërskool Zwartkop
• Sub-junior-afdeling vir dogters: Roxy de Lange van Hoërskool Waterkloof
• Jeug-afdeling vir seuns o.15: Daimon Batteson van Afrikaanse Hoër Seunskool
• Jueg-afdeling vir dogters o.15: Bella Grobler van Curro Serengeti High School
• Jeug-afdeling vir seuns o.16: Jaco Du Bruyn van Afrikaanse Hoër Seuns
• Jeug-afdeling vir dogters o.16: Danika Lombard van Hoërskool Montana

