Koedoes, Kwaggas en Buffels sorg vir rekordbrekende interhuis by Monnas
Koedoes, Kwaggas en Buffels het die pawiljoen gevul terwyl leerders 66 nuwe atletiekrekords tydens Monnas se interhuis opgestel het.
Hoërskool Monument se gees en sportmanskap het op 19 Januarie duidelik na vore gekom tydens die skool se jaarlikse interhuis.
Volgens Monnas se sporthoof, Trompie van der Berg, is dié dag diep gewortel in die skool se geskiedenis en word dit jaarliks aangebied sedert 1936. Vanjaar se interhuis het 3 425 inskrywings regoor al die atletiekitems gelok.

Leerders wat nie aan die atletiek deelgeneem het nie, het die pawiljoen gevul en is in die Koedoes, Kwaggas en Buffels verdeel om te bepaal wie die meeste gees kon toon.

Van der Berg het gesê daar is vanjaar nie net enkele rekords verbeter nie, maar dat altesaam 66 nuwe atletiekrekords oor die hele sportveld opgestel is.

Van hierdie rekords sluit in:
• Hanco van Geelen het die o17-seuns se rekord in gewigstoot verbeter van 13.26m na 17.12m
• Annabelle Blignaut het die o15-dogters se rekord in gewigstoot verbeter van 8.55m na 12.82m
• Kitso Mokoma het die o15-seuns se rekord in die 100m hekkies verbeter van 17.00 sekondes na 13.37 sekondes
• Kairen van der Bank het die o15-seuns se rekord in diskus verbeter van 51.70m na 51.77m
• Heinrich Botha het die o17-seuns se rekord in verspring verbeter van 5.74m na 6.70m
“Ons skryf die dag se groot sukses toe aan die nuwe hoof, wat die skool binne ’n kort tydjie omgedraai het. Die hoogtepunt van die dag was beslis die ongelooflike gees en hoe selfs die wintersportleerders aan die atletiek deelgeneem het,” het hy afgesluit.