Juan-Marié domineer Hyrox Kaapstad
Die Noordheuwel-atleet Juan-Marié Herbst het geskitter met drie eerste plekke by die Hyrox Kaapstad-kompetisie, waaronder ’n persoonlike rekord in haar solo-item.
Juan-Marié Herbst het oor die Paasnaweek weer uitnemend gevaar toe sy met drie goue medaljes van die Hyrox Kaapstad-kompetisie huis toe gegaan het. Sy het van 3 tot 5 April in drie verskillende kategorieë deelgeneem, naamlik Pro Solo Women, Mixed Doubles, en Women’s Relay 40+.
Sy verduidelik dat Hyrox-kompetisies altyd dieselfde formaat volg, wat uit 8km hardloop en agt stasies bestaan. Hierdie stasies behels verskeie oefeninge wat ’n mens se fisiese vermoë op die proef stel, soos sled pushes, roeimasjien, wall balls en lunges.
“Mixed Doubles vereis dat albei spanmaats saam hardloop, maar hulle kan die stasies onderling verdeel soos hulle verkies. Relay sluit vier spanlede in, waar elkeen twee stasies en twee afsonderlike 1km-hardlope voltooi, solank al die stasies teen die einde van die dag afgehandel is,” verduidelik sy.
“My verwagtinge is heeltemal oortref! Ek het drie eerste plekke behaal en ’n persoonlike rekord in my solo-item opgestel. In die Mixed Doubles het ek en my spanmaat binne 60 minute klaargemaak, waarop ons baie trots is,” voeg sy by.

Een van haar sterkpunte is burpee broad jumps.
“Dit is die minste lekker, maar blykbaar is ek baie vinnig daarin,” sê sy.
Al is die sled-oefeninge vir haar uitdagend, het sy daarin geslaag om goud in al drie kategorieë te verower.
“Dit is heerlik om die vrugte van al die harde werk te pluk, maar hierdie sukses is net die begin,” sê sy.
Lees ook: Adjudant-offisier hang sy uniform op ná 42 jaar
Herbst het afgesluit deur te sê dat sy nou voorberei vir die Rebel Renegade Games Teams, Hyrox Johannesburg en Deadly Dozen Johannesburg, wat alles in Mei plaasvind.