Boksers se laaste vuishou

Sestig boksers het tydens Avanté Boksklub se laaste toernooi van die jaart by Protearif Laerskool hulle staal gewys.

Die laaste Avanté Bokstoernooi vir die jaar getiteld Final Destruction het 60 boksers op 9 November in die kryt gehad.

Herman Beukes, die afrigter van die Avanté Boksklub in Tarlton sê dié bokstoernooi was ‘n groot sukses met dertig gevegte wat in die skoolsaal van Laerskool Protearif plaasgevind het.

“Daar was gevegte waarin meer ervare boksers die nuwe boksers gehelp het om meer selfvertroue te kry en dan was daar die toernooigevegte waarin juniors en seniors in hulle onderskeie afdelings geboks het.”

Verskeie klubs soos Witpoortjie, Krugersdorp-Wes, Randgate, Kagiso, Booysens, Kempton Park, Champions (Oos-Rand) en vyf verskillende boksklubs van Pretoria het aan die toernooi deelgeneem.

Om ‘n bietjie te pronk het Herman verklap dat sy boksers ‘n baie belowende jaar agter die rug het, veral omdat die meeste van hulle hul gevegte deur die jaar gewen is.

Die tienjarige Brandon Beukes het reeds 18 gevegte in sy boksloopbaan van vier jaar gewen en word as een van die klub se beste boksers bestempel. Jonathan Berrinthon, Bianca van Rhyn en Tiaan Vermaak is drie van die belowende jong boksers.

“Wian Nortje (16), wat ‘n silwermedalje tydens die Suid-Afrikaanse Bokskampioenskappe gewen het, het tydens die toernooi gewys waarom sy loopbaan in boks aan die groei is toe hy sy opponent wat ses kilogram swaarder as hy was, geklop het,” sê Herman.

“Nog ‘n bokser, André Bothma, het die beker ontvang vir beste boksgeveg van die toernooi.”

Hy sê hulle sien daarna uit om volgende jaar weer ‘n goeie boksseisoen te hê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button