Bestuurder met slegs leerlinglisensie veroorsaak glo ongeluk

'n Bestuurder met twee kinders in haar voertuig het glo met net 'n leerlinglisensie gery toe 'n ongeluk in Voortrekkerweg gebeur het.

Kobus Niemann die pa van ‘n seun wat op 25 Januarie in ‘n motorongeluk op die hoek van Voortrekkerweg en Van Oordstraat beseer is, wil graag sy weergawe van die gebeure vertel.

Die NUUS het berig dat ‘n Nissan-bakkie en ‘n Toyota Corolla omstreeks 12.25nm gebots het en dat dit voorgekom het of die bestuurder van die bakkie teen ‘n hoë spoed oor ‘n rooi verkeerslig gery het toe hy uit Roodepoort se rigting na Krugersdorp onderweg was.

Niemann sê die spoedmeter van sy seun Rudi (19) se bakkie het op 60 stilgestaan en dat die ongeluk nie sy seun se skuld was nie.

Die bestuurder van die Toyota het by die verkeerslig voor sy seun ingery toe sy uit Voortrekkerweg by Van Oordtstraat wou indraai.

“Ek het hom van die toneel af weggeneem nadat die paramedici van ER24 op die toneel aan my gesê het dat hy stabiel is.”

Rudi het ‘n sny aan sy kop opgedoen wat by die Netcare Krugersdorp Hospitaal behandel is.

“Daar is ook X-strale van sy knieë en bors geneem om te kyk of daar enige beserings is.”

Niemann sê die Toyota-bestuurder wat twee kinders as passasiers in die voertuig gehad het, het erken dat sy voor sy seun ingedraai het en slegs ‘n leerlinglisensie besit. Sy het dit in haar verklaring aan die polisie bevestig.

Die NUUS het konstabel Tshepiso Mashale, ‘n Krugersdorpse polisiewoordvoerder vir kommentaar genader om die verklaring te bevestig, maar geen terugvoering hieroor is ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button