Oud-Krugersdorper Arno Greeff te sien in nuwe fliek
Die nuwe Afrikaanse fliek begin op Valentynsdag in teaters draai.
Arno Greeff, ‘n oud-Krugersdorper, is binnekort in ‘n romantiese drama op die grootskerm te sien.
Arno, 24, sal te sien wees in die nuwe Afrikaanse fliek Vergeet My Nie wat op Valentynsdag in teaters begin draai.
Die fliek is ‘n pragtige verhaal van liefde deur die eeue heen wat in Johannesburg, Kaapstad, Londen en Namibië geskiet is. Dit is ook gebaseer op die ware verhaal van Hugo en Mardaleen Derks uit Namibië.
Arno speel die rol van Braam Malherbe. Hy is Mardaleen se hoërskoolliefde met ‘n Bon Jovi ‘perm’. Hy het die tipiese bad boy vibe en rook en verneuk (en lieg boonop daaroor) gereeld.
Maar wie is die man agter die bad boy Braam? Arno is een van die mees ervare akteurs in Suid-Afrika jonger as 25. Sedert hy op 18-jarige ouderdom sy professionele loopbaan begin het, het hy in agt films gespeel, was in vier sepies met meer as 300 episodes agter sy naam, en het in twee televisiereekse verskyn.
Behalwe vir toneelspel, regisseer en skiet hy ‘n reisprogram vir TV en is ‘n aanbieder van die aktualiteitsprogram Fiësta op kykNET.
Onlangse werke sluit in die kykNET-reeks Tydelik Terminaal, natuurlik die film Vergeet My Nie en ook die Netflix-reeks Blood and Water wat in April vanjaar op die internasionale platvorm sal verskyn.
Gaan kyk gerus na Vergeet My Nie in jou naaste fliekteater.
VIDEO

