LUISTER: Mindalore se Dwayne kruip reeds diep in ons musiekharte
Plaaslike sanger Dwayne Griffin het onlangs sy tweede enkelsnit vrygestel, genaamd Het Jy Geweet.
Met die suksesvolle vrystelling van sy debuutenkelsnit, Soos Die Seisoene, het Dwayne Griffin reeds diep in Afrikaanses se musiekharte gekruip.
Nou is hierdie twintigjarige jong musikant van Krugersdorp gereed om gehore nog verder te beïndruk met die tweede enkelsnit uit sy eie pen: Het Jy Geweet.
Dwayne beskryf dié kontemporêre enkelsnit as ’n omgeelied wat daarop neerkom dat wanneer jy regtig vir iemand omgee, jy nie anders kan as om hulle geluk eerste te stel nie, selfs al voel hulle nie dieselfde nie, en dit beteken dat jy hom of haar moet laat gaan.
Hierdie liedjie is deur verskeie mense se persoonlike ervarings, asook ander soortgelyke situasies, geïnspireer en ek het my woorde baie versigtig gekies en nie opgehou ontwikkel aan die lirieke nie totdat ek tevrede was,” vertel Dwayne.
Volgens hom gaan die publiek beslis aanklank vind by die snit, omdat almal al gemengde gevoelens gehad het oor ’n spesifieke situasie in hul lewens. “Die doel van die liedjie is om ‘n unieke betekenis te hê vir elkeen wat daarna luister, sodat hulle hul met die boodskap kan vereenselwig.”
Alhoewel hy nou maar net twee jaar amptelik in die musiekbedryf doenig is, is hy beslis nie ‘n groentjie wanneer dit by musiek kom nie en het al op die ouderdom van 12 ernstig begin raak oor musiek.
Hy het op hoërskool in die koor gesing en gereeld deelgeneem aan verskeie musiekkompetisies en -konserte waar hy goed presteer het. Hy was ook medeskrywer van die temalied vir Staan Sterk in Afrikaans Konsert, wat deur onafhanklike kunstenaars op die been gebring is.
Dwayne geniet en sing ‘n verskeidenheid van genres wat wissel van Country en Rock tot Afrikaans en Pop, en sal graag nog eendag saam met Ruhan du Toit en Riana Nel wou werk.
Omdat Dwayne baie kreatief is hou hy ook daarvan om homself deur middel van verskillende mediums uit te druk. Daarom doen hy grafiese ontwerp wanneer hy nie met musiek besig is nie.

Tans is hy en sy span hard besig om aan sy eerste album te werk, wat hy graag volgende jaar wil vrystel. “Dit gaan oorspronklike musiek, asook my weergawes van bekende liedjies bevat sodat die luisteraars my, as kunstenaar, beter kan leer ken.”
Oor die afgelope twee jaar het die musiekbedryf vir Dwayne geleer om gemaklik te wees in sy eie vel en op die verhoog.
Hy was nog altyd vasberade om sy musiek op die radio te hoor en voel bevoorreg om reeds sy tweede enkelsnit te kon vrystel.
Daar is nog baie wat hy in die toekoms wil bereik en met ’n liedjie soos Het Jy Geweet is hy beslis op die regte pad om ‘n sukses van sy musiekloopbaan te maak.
Die enkelsnit is nou beskikbaar op Apple Music, iTunes, Spotify, YouTube, Deezer, Amazon Music en meer.
