EntertainmentLifestyle

Nuwe hoogtes vir Noordheuwel se Marisa

LUISTER: Van eerste musiekvideo tot eerste kortspeler vir Noordheuwel se Marisa.

Na die sukses van haar debuutenkelsnit, Plaasmeisiekind, bou Marisa verder aan haar musiekdroom met die vrystelling van haar eerste kortspeler, Alles Vir Jou.

Lees ook: KYK: Noordheuwel se Marisa stel eerste musiekvideo bekend

Volgens dié spontane blondine wou sy nog altyd ’n sanger wees en toe sy 37 was kon sy hierdie wens uiteindelik amptelik bewaarheid.

Alles Vir Jou was die heel eerste liedjie wat ek geskryf het en is ook die inspirasie vir die album,” het sy verklap.

Die lirieke het God een middag op my hart kom graveer toe ek op moedverloor se vlakte was. Ek het dit in my binneste gehoor en besef ek moet dit neerskryf, en só is die lied gebore. Die Here het dit alles vir my gedoen en daarom wil ek Hom al die eer gee met hierdie album.”

Die kortspeler bestaan uit ses pragtige kontemporêre snitte, wat haar vernuf as musikant en liedjieskrywer behoorlik ten toon stel. Al die liedjies kom uit haar pen en is deur Hansie Roodt getoonset en deur Tjaart van der Walt vervaardig.

“Elke lied vertel ’n storie, leer ’n les, gee nuwe moed en los jou siel met onvoorwaardelike hoop. Dis ’n lekkerluister-vrystelling, wat vrolike dansmusiek kombineer met dieper snitte wat met die hart praat,” het die kunstenaar verduidelik oor die inhoud wat so sorgvuldig saamgestel is.

Alhoewel sy nie graag ’n gunsteling wil uitsonder nie, glo sy dat Pienk die potensiaal het om ’n baie groot treffer te wees.

“Die lied lê my na aan die hart omdat dit so ’n mooi betekenis het. Ek glo elke vrou op aarde het iets spesiaal binne haar wat die moeite werd is om raak te sien,” het sy vertel.

As ons werklik moeite doen om die hart van die vroue rondom ons te verstaan sonder om te oordeel, sal die wêreld ’n beter plek wees. Pienk herinner ons om eers te dink voordat ons praat, om mooi te luister en met oë vol genade na ander te kyk.”

Marisa het eers twee jaar terug professioneel begin musiek maak en het vertel dat sy dit baie geniet het om haar liedjies in die ateljee op te neem.

Buiten vir die kerk se orkes het sy ook verskeie ander optredes by funksies en ander geleenthede op haar kerfstok.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy ’n voltydse tuisteskepper, vrou en ma van twee, wat lief is vir die Here en dit geniet om ’n veilige en liefdevolle hawe vir haar gesin te skep. Sy hou ook so nou en dan haar lyf grafiese ontwerper waar nodig.

Marisa het erken dat sy haar hart op haar mou dra en met Alles Vir Jou hoop om ’n blywende impak op luisteraars se lewens te hê.

Ek kan nie altyd by almal uitkom om hulle moed in te praat of raad te gee nie, maar met musiek wat iets beteken kan ek iemand se lewe verander. My geheim is om te wag vir God om die regte woorde en melodieë oor my pad te bring, en te vra dat dit op die regte ore sal val,” het sy afgesluit.

VOLG HAAR OP:

• Facebook – https://www.facebook.com/profile.php?id=100074545675778
• Instagram – @Marisa_Plaasmeisiekind

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Back to top button