Entertainment

Oud-Krugersdorper deel van treffer-musiekblyspel

Ilán van Staden, oorspronklik van Krugersdorp, is een van talle indrukwekkende akteurs in die splinternuwe produksie, Die Kaplyn.

Die musiekblyspel Die Kaplyn, wat aanvanklik net vanaf 26 April tot 21 Mei by die AfriForum Teater opgevoer sou word, se speelvak is nou tot 4 Junie verleng. Dit volg ná die wegholsukses van die eerste speelvak se kaartjieverkope.

Die Kaplyn is ’n aangrypende verhaal van die gebeure tydens die Grensoorlog in die 1980’s. Die produksie word met trots aangebied deur AfriForum Teater en Inhoudhuis Musiek, die skeppers van die gewilde Die Gelofte-musiekblyspel van 2022. Die teks is deur Johan Vorster en die regisseur Jannes Erasmus geskryf, musiek en lirieke is deur Johan en Jacomien de Wet behartig, terwyl die orkestrasie deur Francois Lessing en musiekregie deur Vorster en Lessing versorg is.

Die Kaplyn is ’n aangrypende verhaal van die gebeure tydens die Grensoorlog in die 1980s. Foto ingestuur.

Buiten vir Johan wat self ook in die produksie te sien is, sluit die rolverdeling ook ander indrukwekkende akteurs in, waaronder Ilán van Staden, oorspronklik van Krugersdorp. Hierdie ongelooflike aantreklike, veelsydige en talentvolle nuweling het verlede jaar vir homself naam gemaak nadat hy ’n platekontrak met Inhoud Huis Musiek geteken het, én ’n rol losgeslaan het in die treffer-teaterproduksie, die einste Die Gelofte-musiekblyspel. Sy eerste radiovrystelling, Soen My Op My Mond, ’n duet met Bernice West, wat spesifiek vir Die Gelofte geskryf is, was en is steeds ’n treffer op radiostasies landswyd.

Ilán se eerste enkelsnit, wat met ’n tipiese college-pop-rock aanslag spog, is ’n goedvoel-liedjie waarby die meeste luisteraars sal aanklank vind aangesien dit die storie vertel van waar liefde en pizza ontmoet.

• Lees ook: Oud-Krugersdorper breek die internet met sy Koue Pizza

“Teatergangers wat van ‘Die Gelofte’ gehou het gaan beslis waarde kry en gaan ’n sakdoek van die begin af moet saambring. ’n Fiktiewe storie word teen die agtergrond van die Grensoorlog vertel.

Deur dié verhaal word hulde aan die helde gebring wat onder baie van ons dakke woon, maar waarvan ons so min weet.

“Ons voel bevoorreg om weer die kans te kry om ’n storie uit ons nabye verlede in die vorm van ’n musiekblyspel te kan vertel,” sê Johan en Jacomien.

Oud en jonk sal aanklank vind by hierdie uitsonderlike verhaal, wat deur middel van ’n puik kombinasie van draaiboek, musiek en toneelspel die kyker op ’n nostalgiese reis sal neem wat hul sal bybly lank nadat die gordyne gesak het.

“Die Kaplyn is hoopgewend, vol lewenslesse en gee ’n empatiese blik op gesinne se opofferings tydens die grensoorlog, terwyl dit ook die gehoor sal vermaak met puik musiek en puik akteurs,” sluit Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, af.

Check Also
Close
 
Back to top button