Dwayne gee ‘Groen Trui’ nuwe lewe
Dwayne Griffin van Mindalore gee die ikoniese Afrikaanse lied “Groen Trui” ’n vars en moderne klank, terwyl hy die oorspronklike eerbiedig.
Dwayne Griffin, ’n inwoner van Mindalore, het ’n bekende Afrikaanse lied nuwe lewe ingeblaas op sy eie, unieke wyse.
Na die suksesvolle vrystelling van sy vorige enkelsnit, Teenmiddel, stel die Afrikaanse sanger nou sy weergawe van die geliefde lied Groen Trui, oorspronklik deur Jan Blohm, bekend.
“Groen Trui is al vir baie jare ’n bekende en gewilde lied onder Afrikaanse musiekliefhebbers. Met my weergawe bring ek ’n vars interpretasie, terwyl ek steeds groot respek betoon aan die oorspronklike lied en die betekenis wat dit vir soveel mense inhou,” het hy vertel.
Vir Dwayne is hierdie vrystelling ook ’n besondere mylpaal in sy musiekloopbaan, aangesien dit sy eerste enkelsnit is wat hy self vervaardig het.
Kyk hier: https://www.youtube.com/watch?v=28ptVQBPTcc
“Met hierdie produksie gee ek die lied ’n meer moderne klank, terwyl die emosionele kern en eerlikheid van die oorspronklike komposisie behoue bly,” het hy bygevoeg.
Dwayne sê dat die lied oor die jare uiteenlopende betekenisse vir verskillende mense gekry het – van liefde en verlange tot herinneringe aan spesifieke oomblikke en mense in hul lewens. Met sy weergawe hoop hy om daardie emosie weer opnuut met luisteraars te laat resoneer.
Die lied is beskikbaar op verskeie digitale platforms, insluitend Apple Music, iTunes, Spotify, YouTube, Deezer en Amazon Music.
