Smul-lekker geregte hier
Restaurant Cucina Montina, van die Hoërskool Ben Vorster, het weer die afgelope kwartaal restaurantaande aangebied van uitstaande gehalte.
RESTAURANT Cucina Montina, van die Hoërskool Ben Vorster, het weer die afgelope kwartaal restaurantaande aangebied van uitstaande gehalte.
Die gasvryheidstudie leerders van graad 10, 11 en 12 het om die beurt hulle eie spyskaarte beplan, gekook en bedien in die Vossies se restaurant.
Die restaurant is telkens omgetower en versier volgens ‘n gekose tema.
Die leerders verkoop vooraf kaartjies en bedien ‘n 4-gang of 5-gang maaltyd aan uitgesoekte gaste gedurende hierdie funksies.
Die disse wat voorberei word, is voorwaar smaaklik en word só pragtig voorgesit dat dit enige gas se mond sal laat water.
Op 24 Julie 2014 het die graad 12-klas van 2014 hulle staal gewys en ‘n keurige 5-gang maaltyd bedien aan die uitgesoekte gaste.
Die spyskaart het bestaan uit brokkoli- en kaassop met vars gebakte broodrolletjies.
Daarna is ‘n heerlike plaaslike avokadokerrie bedien, wat afgerond is met ‘n bessiesorbet om die palet te verfris. Die hoofgang was supersagte Bief Tournedos, bedien met rooiwynsous, rysslaai en groentevingers. Die feesmaal is afgesluit met kraakvars karamel kaaskoek.
Die restaurant is stylvol versier en die leerders het gaste met grasie en styl bedien.
Daar word alreeds druk beplan aan volgende jaar se funksies en die verwagting is dat die sjefs hulle beste voetjie sal voorsit met keurig beplande disse.
Die Tzaneen gemeenskap word genooi om die pers dop te hou vir volgende jaar se datums. Gaan deel gerus in die genot.