Local newsNewsSchools

Simone wen Helpende Hand kompetisie

'n Leerder van Hoërskool Merensky is verlede Donderdag aangewys as die wenner van Solidariteit Helpende Hand se nasionale entrepreneurskompetisie. Simoné Schoeman, 'n graad 12-leerder, het prysgeld van R15 000 ontvang wat sy nou kan gebruik om in haar besigheid, Simoné Schoeman Fotografie, te belê.

‘n LEERDER van Hoërskool Merensky is verlede Donderdag aangewys as die wenner van Solidariteit Helpende Hand se nasionale entrepreneurskompetisie.

Simoné Schoeman, ‘n graad 12-leerder, het prysgeld van R15 000 ontvang wat sy nou kan gebruik om in haar besigheid, Simoné Schoeman Fotografie, te belê. Sy het ook R15 000 vir haar skool gewen wat vir entrepreneursontwikkeling aangewend kan word.

Simoné is ook as die gehoorgunsteling aangewys waarvoor sy ‘n addisionele R1 000 ontvang het.

Tydens haar voorlegging het Simoné vertel dat sy al van jongs af ‘n passie vir fotografie het en die geleentheid raakgesien het om dit in ‘n besigheid te omskep. Sy bied ‘n verskeidenheid bekostigbare pakkette aan en glo dat goeie kliëntediens en ‘n vriendelike aanslag tydens fotosessies haar onderskei van haar mededingers. Sy het ook gesê dat sy graag verder in haar besigheid wil belê deur formele fotografie-opleiding ná skool te kry.

Ná baie kopkrap het die beoordelaars besluit om ‘n gesamentlike tweedeplek aan Nico Brayshaw van Heilbron in die Vrystaat en Mervyn Roos van die Paarl in die Wes-Kaap toe te ken. Die twee leerders het elk R8 000 ontvang om in hul besighede te belê.

Nico se besigheid behels kommersiële handel met vleisbeeste, en die verkoop van springmielies en vrugtesap-ysies, terwyl Mervyn vars plaaseiers verkoop.

‘Dit was ongelooflik om sulke goeie besigheidsvernuf by hierdie jongmense te sien,” sê Annette Taljaard, Helpende Hand se psigometris en organiseerder van die kompetisie. “Al die deelnemers het hulle uitstekend van hul taak gekwyt en ‘n blink toekoms lê ongetwyfeld vir hulle almal voor.’ Elk van die vyf finaliste wat verlede Donderdagg hul besighede aan die beoordelaars voorgelê het, het R5 000 van die Atterbury Groep ontvang.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button