DIE veertiende Nasionale Jeugskou het gedurende die vakansie te Vryburg in Noordwes plaasgevind.
Limpopo het vir die eerste keer hieraan deelgeneem, met ‘n jeugskou-span wat uit slegs vyf deelnemers bestaan het. Vier spanlede van Hoërskool Merensky, en een van Laerskool Dr Annecke.
Die kleinspan onder leiding van Willie Stevens het met die intrapslag van die kompetisie vriend en vyand beïndruk met hul entoesiasme, vriendelikheid en professionele skoumanskap.
Met nie minder as 10 provinsies wat deelgeneem het, was die kompetisie straf. Al vyf deelnemers, Jeandri van Wyk, Micaela Ball, Rentia Snyman en Xander Botha van Merensky en Jessica Botha van Dr. Annecke het in die vleisbeeste kategorie deelgeneem. Xander Botha – wat ook siek geword het tydens die skou – het algeheel 5de geëindig. Dit was sy eerste Nasionale skou.
Die drie senior meisies het ook tydens die skou vir die eerste keer aan ‘n groepsklas deelgeneem en 4de geëindig na Noordwes, Kwa-Zulu Natal en die W.P. Hierdie was ‘n puik prestasie as mens in ag neem dat hierdie ook hulle eerste Nasionale skou was.
Die Limpopo span het nie met leë hande huistoe gekeer nie. Die span is vereer met die trofee vir die beste versorging van hul stalle en diere tydens die skou. Dit het beslis net weer beklemtoon dat die Plasies as span hard kan werk en die belangrikheid van die versorging van die stalle en diere ernstig opgeneem het.
Merensky sal voortaan baie meer betrokke wees by die organisering van die Limpopo span en nooi graag leerders uit wat belangstel in die unieke sport om Willie Stevens by die skool te kontak. Veral juniors (10-14 jaar) en junior juniors (onder 10 jaar) word gesoek om deel te vorm van volgende jaar se Provinsiale span.



