Local newsNews

Juba tree eersdaags hier op

Die twee Juba broers tree eersdaags in Tzaneen op.

DIE Hervormde kerk bring sommer vroeg lekker vermaak met Juba wat hier kom optree op 30 Januarie.

Daar is min Afrikaanse musikante én sangers wat soveel vrolikheid op note kan verseker as Juba. Die twee Joubert-broers sing vanjaar reeds vir twee dekades lank saam. En hul jongste en derde album, As ek eendag ophou droom, is ‘n vurige viering van hierdie mylpaal.

Juba (‘n noemnaam vir Joubert) bestaan uit Adriaan en Martiens, wat saam as ‘n kragtige duo ‘n totaal van 13 nuwe liedjies op die nuwe album sing. Martiens is die liedjieskrywer van gewaarborgde treffers soos Soveel keer en die voetejeuk-rugbyliedjie Springbokspan. Maar saam sing die broers ook hartsnaar-tintelende ballades soos Bella en die onvergeetlike Liewe Ma.

“2013 was ‘n baie hartseer jaar vir Juba aangesien ons ma einde Maart daardie jaar op ons plaas Rietpoort naby Nylstroom (Modimolle) oorlede is. Al die hartseer gebeure het ‘n besliste invloed op die nuwe album gehad,” vertel Martiens. “Ons het egter nie afgewyk van die skuurdans-deuntjies en –ritmes nie. Jy gaan nog steeds wil dans tot die son opkom. Daar is wel ‘n paar nostalgiese, hartseer snitte, soos Liewe Ma, Vaarwel, Bella en Waterbergdrome, wat jou tot nadenke sal dwing.”

Musikaal wil Juba nie in ‘n boks gedruk word nie. Tog kan hul kraakvars akoestiese kitaarklanke bied, tesame met pop, rock en ‘n proeseltjie moderne boeremusiek. Al hul musiek is gerugsteun deur die opbeurende, positiewe lirieke. “Ons leef positief en gryp die dag aan, maar Martiens sê ‘n mens dans nie net in die lewe nie, soms is dit nodig om ‘n glasie rooiwyn te drink en diep te raak. Ons is almal net mens.

“As ek eendag ophou droom is ‘n unieke album. Trots Suid-Afrikaans sing ons graag oor die positiewe in ons sonnige land, en soms, met ‘n tong in die kies, is daar ‘n boodskappie of twee vir andere…”

Juba se musiek is vir die hele gesin. Die inspirerende titelsnit is die ideale voorgereg op ‘n album wat sonder enige vervelige vullers uitgereik word. Bosvarkjag is sommer pure pret, terwyl Langebaan en Protea ewe gemaklik onder die vel kom inkruip. En Vat jou goed en trek – Adriaan se gunsteling-liedjie op die album – gee sommer ekstra woema aan dié ou gesegde.

In Afrikaans is daar min volwasse kontemporêre albums wat soveel verskeidenheid in klank én liriek bied. Met Martiens se vernuf as liedjieskrywer en die duo se jolige saamsing-melodieë waarborg die Joubert-broers dus weer eens ‘n album wat ‘n glimlag en gelukkige voete op die dansvloer sal verseker.

Hierdie manne kan! Trots Afrikaans!

Gaan luister en dans heerlik saam.

Dit sal aangebied word in ‘n Barnyard styl, neem eie eetgoed en drinkgoed.

Dit sal plaasvind by Highgrove Lodge in die groot tent, Agathastraat en skop om 18:30 af.

Kleredrag is gemaklik.

Kaartjies is te koop by die kerkkantoor teen R100 per persoon. ‘n Tafel met 10 of 8 sitplekke kan ook gekoop word.

Daar word ook enkele unieke en antieke artikels opgeveil. ‘n Pragtige antieke hout bababed, getekende rugbytrui en nog vele meer.

Alle navrae: Marna Pohl: 082 555 7324, Wim Jacobsz: 082 786 9904, Richard van der Westhuizen: 072 144 7514, Hervormde Kerkkantoor: 015 3074508

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button