Hannes Steyn is die nuwe pastoor vir AGS gemeente
AGS Tzaneen gemeente het 'n nuwe pastoor beroep.
Hy is geen vreemdeling in ons gemeenskap nie. Hannes Steyn is al ‘n geruime tyd besig om Koninkryk werk te doen in en rondom Tzaneen.
Hy is reeds van 2010 die visionêre leier van die interkerklike jeugsentrum, Herofield, waar die gemeenskap se jeug bedien word.
Hy en sy vrou het in Mei 2014 op ‘n vrywilliger-basis betrokke geraak by die gemeente toe pastoor Maans Schutte afgetree het.
Die bestuursraad van die gemeente het onder die leiding van die Heilige Gees ervaar dat Hannes en sy gesin deur die Here na die gemeente gestuur is.
Sy vrou, Adele Steyn is ook ‘n geordende pastoor van die AGS. Hulle is beide reeds van 2005 in die voltydse bediening. Saam is hulle ‘n goeie span wat hard werk om God se Koninkryk te sien groei in en om Tzaneen. Hulle het drie kinders, Myra, Markus en Elroy.
Reeds is daar groot vrug op hulle werk hier in die gemeente. Die AGS Tzaneen se dienste vind Sondagoggende om 09:00 plaas. Tydens die diens word daar ook kinderkerk aangebied vir alle voorskool en laerskool kinders. Na elke diens kuier almal lekker saam om ‘n koppie koffie en ‘n “Lemon Cream”. Die paar vertrou die Here vir ‘n blink toekoms met vrug wat inspirasie en hoop sal bring vir baie.
Die kerkkantoor is Maandae-, Woensdae- en Vrydagoggende oop van 08:00 – 13:00. Vir enige navrae, afsprake, of fasiliteit besprekings skakel gerus die kantoor by die volgende nommer: 015 307 5112. Graag bedank hulle pastoor Maans Schutte hartlik vir sy groot werk in die gemeente en bid ons dat die Here hom ryklik sal seën.



