Letaba-rugby is vuurwarm
Letaba het Saterdag met drie spanne in Polokwane teen Noordelikes gespeel en die wedstryde was van die begin af vuurwarm.
Letaba se eerstespan het ongelukkig die onderspit met 43-24 gedelf maar die eindtelling is nie ‘n getroue weergawe van die wedstryd nie.
Letaba het vroeg voorgeloop na ‘n monster skrum op Noordelikes se doellyn waar hulle doodeenvoudig net Noordelikes se hele pak voorspelers oor hulle doellyn gestoomroller het vir ‘n oorstoot drie.
Die voorspelers het meer as hulle man teen die veel groter pak voorspelers van Noordelikes gestaan. Noordelikes het na die wedstryd opgemerk dat hulle voorspelers nie eers tydens die gemeenskapbeker so ‘n pakslae gekry het nie.
Spesiale vermelding moet gemaak word van Letaba se voorry, Picasso Coetzer, JP Swartz en Thulani Mathonsi wat hulle teenstanders laat kreun het. Hulle is goed ondersteun deur die twee slotte, Eben Fichardt en Jannus van Loggenberg.
Selfs in die lynstane het Letaba se Glen Mafumo ‘n stroom goeie besit gewen en Noordelikes se lynstane ontwrig.
Halftyd was Letaba 12-05 voor en Noordelikes het vroeg na die afskop die gelykmakende drie gedruk.
Die wedstryd het daarna vir die volgende 20 minute wipplank gery met Letaba en Noordelikes wat om die beurt gedruk het.
Daarna het die laaste fatale 20 minute vir Letaba 1 aangebreek.
Noordelikes het ‘n hele reserwebank wat glad nie vir hulle tweedespan speel nie en stuur gedurende die laaste 20 minute vars bene op die veld. Dié vars spelers het die verskil gemaak tussen die twee spanne.
Letaba is bewus van hierdie taktiek maar het nie die diepte van Noordelikes om die luukse van vars reserwe spelers te kan bekostig nie. Letaba het in die week oorweeg om vars reserwespelers uit te hou maar sou dit ongelukkig die tweedespan erg verswak en is daar besluit om dit nie te doen nie.
Die tempo van die wedstryd het merkbaar gelig na hierdie spelers opgekom het en kon Letaba se spelers net nie meer die pas volhou nie in ‘n wedstryd wat deurgaans teen ‘n hoë tempo gespeel is.
Quintin Kruger wat ‘n reuse wedstryd vir die tweedespan gespeel het, is opgestuur en het hy met ‘n paar kraglopies Noordelikes laat bontstaan maar sy bene was moeg. ‘n Vars Quintin Kruger kon dalk ‘n verskil gemaak het.
Netso moes heelagter, Ruan Roets, wat ‘n skitterwedstryd gehad het, vasbyt met ‘n beseerde enkel aangesien die tweedespan se agterlynspelers nog te jonk en onervare is om teen Noordelikes se eerstespan te speel.
Vleuel, Cornel Jacobs was die beste agterlynspeler en Uwe Sauer was die beste voorspeler vir Letaba. Hulle het gewys dat hulle Noordelikes kan wen. Letaba moet net aan hulle diepte werk om ‘n vars reserwebank te kan opbou.
Vir Letaba 1 het Uwe Sauer uitgeblink met 3 drie’e en Deano Kruger het 1 drie gedruk en het Gom Vuma met twee vervyfskoppe geslaag.
Letaba se tweedespan het net-net die onderspit gedelf met 27-22 maar daar moet in gedagte gehou word dat ‘n paar staatmakers vir die klub nie beskikbaar was nie.
Dit het die eerste- en tweedespan se diepte geafekteer. Letaba 2 moes met ‘n flank en losskakel onderskeidelik op senter en losskakel uitdraf, maar dit het hulle nie afgeskrik nie en was Letaba 2 ook teen halftyd voor.
Die dun reserwebank het egter ook in die laaste paar minute sy tol geëis.
Wikus Steyn wat moes uithelp op senter is aangewys as speler van die wedstryd en is hy goed ondersteun deur slot, Aalwyn van der Lith, sy mede-senter Daneel Retief en het Loskop Quinten Kruger Noordelikes se tweedespan laat bontstaan met sy kraglopies.
Puntemakers vir Letaba 2: Quinten Kruger, 2 drie’e, Bennie Kruger en Joseph Monyela, 1 drie elk en het Lenis van Rooyen geslaag met twee vervyfskoppe.
Letaba se derdespan was die oorwinnaars met 19-07 en het heelagter, Carel O’Neill die oog gevang met skitterspel en is hy goed bygestaan deur senter, Wentzel Geldenhuys en voorlangs het hakker Chris Malatjie en die slot Michael dos Ramos die pap dik aangemaak.
Die volgende spelers het vir Letaba elk ‘n drie gedruk: Terblanche Vorster, Michael dos Ramos, Nikki Janse van Rensburg, en het Devon Robson met twee vervyfskoppe geslaag.
Letaba speel komende naweek weer weg teen Mankweng en eers die naweek van 23 Mei tuis teen Louis Trichardt.
Alhoewel die resultate teen Noordelikes nie was wat Letaba graag wou hê nie, is die bestuur opgewonde vir die res van die seisoen aangesien die klub gewys het dat hulle nie terug hoef te staan vir Noordelikes, wat nou al jare klubrugby in Limpopo oorheers nie en is daar ‘n stille vasberadenheid in die klub om hierdie jaar die bordjies te verhang.



