NUUSFLITS: Lyk in Dbn hotel: Tzaneense sakeman dalk betrokke
'n Sakeman van Tzaneen is in 'n kritieke toestand in Middelburg Hospitaal na 'n ernstige motorongeluk verlede Maandag.

Die sakeman (wie se identiteit nie tans bekend gemaak mag word nie) word egter met allerlei vreemde gissings verbind.
Hy het verlede jaar ‘n bekende besigheid in Tzaneen gekoop en dit van 5 Januarie 2015 af begin bestuur.
Bronne na aan die besigheid het dit egter dat die besigheid tans in die moeilikheid is.
Om die water verder te vertroebel is die sakeman, na wat verneem word, vervreem van sy vrou en was hy die afgelope tyd in ‘n selfde geslag verhouding betrokke.
Die verloop van omstandighede wat gelei het na sy ongeluk is tans nog baie onseker.
Wat wel bekend is, is dat hy en sy vriend op Maandag 23 November by ‘n bekende selfsorg hotel in Durban ingeteken het.
Op Dinsdag 24 November het personeel ‘n moeniesteur-nie-bordjie op hulle deur gewaar.
Toe personeel teen Donderdag steeds geen teken van die twee gaste sien nie, het die bestuur aan hul kamerdeur gaan klop.
Personeel van die hotel het uiteindelik self die deur oopgesluit, op die oorledene afgekom en die SAPD ontbied.
Die slagoffer het meer as een skoot in sy kop gehad en volgens ‘n naamlose bron op die toneel, wou dit voorkom asof hy deur ‘n kussing geskiet is om die klank van die skote te demp.
Die hotel het steeds nie kommentaar op die aangeleentheid gelewer nie, maar het beloof om wel dit te doen sodra daar meer duidelikheid is.
Die Tzaneense sakeman het intussen, volgens ‘n bron wat bekend is met sy doen en late, glo weer bande met sy vervreemde vrou opgetel en op Sondag 29 November van Tzaneen af gery om haar trek in Secunda te gaan haal.
Op pad terug van Secunda af, het hy tussen Middelburg en Belfast, voor ‘n aankomende trok beland.
Volgens die bron is hy onder polisiebewaking in ‘n kritieke toestand in Middelburg Hospitaal.
Sy borsbeen is gebreek, sy regterbeen is vergruis, sy lewer is geskeur en daar bestaan vrese dat sy longe kan platval.
Bronne in die plaaslike SAPD kon nie bevestig of daar ‘n moordsaak teen hom oopgemaak is nie.



