Muni swembad: Miljoene spandeer op wit olifant
Tzaneeen se Munisipale swembad is steeds, na talle beloftes van die Munisipaliteit, nie oop vir die publiek nie.
Ten spyte van ‘n opening seremonie wat einde verlede jaar by die swembad gehou is, waar beide die burgemeester en die speaker van die Raad toesprake gelewer het en die swembad amptelik geopen is, kan inwoners van die dorp steeds nie in die versengende hitte gaan lyf natmaak nie.
Die probleem blyk steeds ‘n gebrek aan lewensredders te wees.
Na herhaalde pogings om kommentaar van die GTM te verkry, het Neville Ndlala, woordvoerder van die GTM, eindelik laat weet dat daar geen verandering sedert Desember plaasgevind het nie en dat die GTM steeds wag vir mense om van Ethekwini af te kom om lewensredders hier te kom oplei.
Die vraag kan met reg gevra word of daar werklik niemand in die hele Limpopo provinsie is wat hierdie opleiding kan doen nie.
Ook, hoe is dit moontlik dat ‘n multi-miljoen Rand projek soos hierdie, deur iets eenvoudigs soos ‘n gebrek aan lewensredders gedwarsboom kan word?
“Ons sal die publiek inlig sodra die swembad oop is. Enigiemand met spesifieke vrae kan die GTM self kontak vir meer duidelikheid in hierdie verband. “Ons kan nie ‘n tyd maak nie aangesien die opening van die swembad afhang van ‘n verskeidenheid van faktore wat nie noodwendig deur ons beheer word nie. Die GTM vra omverskoning vir enige ongemak wat deur die situasie veroorsaak word,” aldus Neville Ndlala van die GTM.
Inwoners wat vrae oor die swembad het is welkom om Ndlala direk via e-pos by neville.ndlala@tzaneen.gov.za te kontak.



