Local newsNews

Ape ‘n probleem vir party

Plaaslike boere en diereliefhebbers het mekaar onlangs op sosiale media die stryd aangesê oor hoe probleem aaptroppe behandel moet word wanneer hulle boere se landerye asook dorpenaars se erwe binnedring.

Die uitgerekte argument het losgebars nadat ‘n inwoner op ‘n plaaslike sosiale media blad ‘n plasing gemaak het om raad te vra oor die aaptroppe wat haar landerye verniel en verskeie ander lede van die blad haar aangeraai het om die ape te skiet.

Die gort was behoorlik gaar toe inwoners onder mekaar begin inklim het.

Die Herald het met Dave du Toit, die man in beheer van die Vervet Monkey Foundation naby Tarentaalrand, gaan gesels.

Volgens Du Toit moet inwoners besef dat menslike uitbreiding geleidelik die ape se natuurlike habitat in so mate verklein het dat landerye en die dorp se bome hul enigste opsie is om voedsel te bekom.

“Ry bietjie uit op die Agathapad en kyk terug dorp toe. Dit behoort redelik duidelik te wees dat die dorp en plase die enigste konsentrasie4 van voedseldraende bome in die omgewing is. Ons dwing dus die ape om na ons toe te kom,” het Du Toit aan die Herald gesê.

Die ape eet ‘n verskeidenheid van vrugte, blomme, sade, blare, boombas, ens.

Hulle is ook opportunistiese vreters en sal soms insekte, voëleiers, klein voëltjies, akkedisse, asook enige ander eetbare dinge in en om mense se huise en tuine bydam.

Sekere boomsoorte vorm ‘n belangrike deel van hul dieet.

Die koorsboom maak ongeveer 20% van hul dieet uit tydens droë seisoene en 35% in nat seisoene.

Aaptroppe sal ‘n bepaalde area aanhou besoek tot die voedsel wat hul daar vind opraak.

Dan beweeg hul aan na ‘n nuwe area.

Hoewel baie mense glo dat die blouape besig is om buite beheer aan te teel, stem Dave du Toit glad nie daarmee saam nie.

Volgens Du Toit is die blouaap se toekoms ernstig onder druk en hul getalle drasties aan’t afneem.

Weens die feit dat hul natuurlik habitat aan’t krimp is en hulle toenemend meer in residensiële gebiede opgemerk word, is hulle meer sigbaar vir inwoners, vandaar die gevolgtrekking dat hulle meer word.

Du Toit meen ook die vrese van inwoners dat hul kinders of troeteldiere deur die ape aangeval kan word is ongegrond.

Hy meen ‘n blouaap sal net aanval wanneer hy voel hy word bedreig.

Inwoners wat blouape voer dra egter by tot die kans dat ‘n blouaap ‘n ander mens of ‘n troeteldier sal aanval.

Deur hul te voer veroorsaak inwoners dat hulle hul vrees vir die mens verloor.

Wanneer ‘n inwoner of boer wel met ‘n probleemtrop te doen het is daar verskeie meer dier-vriendelike maniere om hulle te verwilder.

‘n Eenvoudige spuit met ‘n tuinslang is soms genoeg om hule te laat spaander, maar ‘n waterpistool kan ook werk.

Ape het ‘n instinktiewe vrees vir slange so ‘n paar rubberslange wat op strategiese plekke geplaas word kan ook hul verjaag.

Inwoners moet die rubberslange net af en toe skuif, anders raak die ape die slang gewoond en steur hul nie meer daaraan nie.

So ook, is ape bang genoeg vir ‘n luiperd dat ‘n kledingstuk met ‘n luiperdvel motief ook genoeg is om hul te verdryf.

‘n Meer eerstewêreldse metode om hul uit jou tuin of landerye te hou is om ‘n elektriese heining op te rig.

Inwoners wat sukkel met probleem aaptroppe is welkom om Dave du Toit self by 083 454 5381 te skakel om meer uit te vind oor wat hul te doen staan om hierdie gehaarde lasposte uit hul tuine en landerye te hou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button