Kar gaan winkel toe
'n Tzaneense man het Donderdagaand die verrassing van sy lewe gekry toe sy kar binne in On Tap in Skirvingstraat beland het.
Die man, Phineas Serotola, het aan die Herald gesê dat ‘n kennis van hom vir ‘n geleentheid na Deerpark gevra het.
Serotola het egter nie genoeg petrol gehad nie en kon hom nie help nie.
Op daardie stadium was sy voertuig by die Caltex vulstasie geparkeer.
Hulle het saam met ander mense, wat bekend is aan hom, gestaan en gesels toe sy kennis vir hom gesê het dat dit besig was om te donker te word en dat hy maar gaan begin loop.
Volgens Serotola was dit nie lank voor een van sy ander vriende hom geroep het en gesê het iemand is besig om sy kar te probeer steel nie.
Serotola het hom na sy voertuig gehaas om te probeer keer.
Hy was egter nie betyds nie.
Sy kennis het probeer om in tru-rat weg te jaag maar het beheer oor die voertuig verloor en binne die winkel beland.
Die Herald was vroeg Vrydagoggend op die toneel en op daardie tydstip het die voertuig steeds daar gestaan met die eienaar en ander vriende, terwyl hulle gewag het vir iemand om te gaan oopsluit sodat hulle die voertuig kon verwyder.
Volgens Serotola, was die SAPD Donderdagaand ‘n uur na die ongeluk plaasgevind het op die toneel, maar is dit tans onduidelik of daar ‘n saak gemaak is.







