Tzaneen inwoners moeg vir magdom ape
Tzaneen se inwoners begin desperaat raak oor die magdom ape in die dorp en ons omgewing. Letaba Herald publiseer 'n brief sowel as 'n video wat nog 'n inwoner verskaf het.
Yvonne du Toit reageer op ‘n artikel (Monkey dies after pellet shot) in 19 Augustus se uitgawe van Letaba Herald:
Groot nuus. Weer ‘n aap beseer deur ‘n mens.
Dit sê vir my net een ding en dit is dat inwoners desperaat begin raak oor die magdom ape in die dorp en omgewing.
Ek praat dit nie goed dat mense diere seermaak nie, maar ek het empatie met hul frustrasie.
‘Du Toit said there are many cases where monkeys and cats are shot.’
Dan is daar mos ‘n probleem.
Tye raak moeiliker en mense word aangemoedig om selfonderhoudend te wees.
Niemand kan meer ‘n groentetuin aanlê of ‘n vrugteboom in die tuin koester nie,want die ape vernietig alles.
Buurman kla die ape steel die hoendereiers, saailinge van baie duur vetplante word uitgetrek en verniel in vetplant kwekerye.
In ons omgewing is ‘n opkomende boer wat nooit die vreugde van sy handewerk geniet nie, omdat sy jong mieliekoppe gesaai lê op die grondpad voor sy huis.
Video: Twee blou apies in ‘n tuin in ‘n Tzaneen woonbuurt
My buurvrou kla dat haar grasperk deur krieke verwoes word omdat die hadidas wat altyd die grasperk skoongehou het,verdryf is deur die ape wat hul neste geplunder het.
Papaya boompies word klein opgevreet en groot bome se blare gestroop.
Selfs vrugte vlermuise het uit ons tuine verdwyn.
Op die internet het ek n video gesien, waar wetenskaplikes vir die eerste keer ‘n foto geneem het waar ‘ n aap ‘n vlermuis verslind (www.earthtouchnews.com).
Die navorsing is daarop gemik om vas te stel of ape wat vlermuise eet, kan bydra tot die verspreiding van siektes soos ondermeer die ebola virus.
Ons wil graag ‘n tuiste skep vir wildlewe in ons omgewing maar dit sluit ander spesies ook in.
Ek wil graag die woorde van Thomas French hier van toepassing maak: “On an overcrowded planet where more species slip toward extinction every day, should one species have the right to multiply and consume at will even as it nudges others to oblivion?”
Om ‘ n ekologiese ramp te voorkom sal drastiese stappe geneem moet word.
Dis verspot om voor te stel dat ape met ‘n tuinslang verjaag moet word. Ons sit met water tekorte en ape skrik nie meer vir die plastiek slang storie nie.
Ons kan ook nie rond hardloop in luiperd pakkies om hulle die skrik op die lyf te jaag nie.
Ape is intelligent en weet baie gou wanneer die mense nie tuis is nie of wanneer hul veiligheid bedreig word.
As lid van die groter Tzaneen gemeenskap stel ek voor dat die Aapstigting moet sluit- die enigste werkbare oplossing.
Laat weet Letaba Herald wat jou gevoel hieroor is: bertus@herald.co.za



