TZANEEN: Ondersteun môre die ‘911 Riders’ inisiatief
Met groot opgewondenheid verwag Limpopo die '911 Riders - Bike Riders against Farm Murders' (BRAFM) om môre te begin met hulle rit.
Wat presies is dit en wat behels dit?
Die organiseerder, TJ Maré, vertel die volgende:
“Die groep groei met ‘n spoed en ek is baie opgewonde. Ek antwoord graag ‘n paar vrae sodat almal op dieselfde bladsy is. Dit is ‘n projek binne BRAFM (Bike Riders Against Farm Murders) wat bewusmaking dryf, waardeering uitspreek en landelike gemeenskapsverhoudings promiveer tussen gemeenskap en SAPS. Dit is nie ‘n klub nie. BRAFM is ‘n artikel 21 NPC maatskappy. Ons beplan ‘n roete deur elke provinsie, besoek die SAPS, ontmoet gemeenskappe, ondersteun die gemeenskap en vetrou God saam.”
Daar is al verskeie veldtogte gedoen en een rit is gewoonlik twee tot vyf dae lank, afhangend van die roete. Almal is welkom om deel te neem aan die veldtog, ryers kan soos hul wil op en afklim op die roetes. Slegs 600cc en groter kan deelneem op die lang pad.
Elkeen betaal vir sy eie brandstof, akkomodasie en etes. Vrye toegang tot tolhekke word onderhandel waar moontlik en elke deelnemer aan die lang afstande word R250 gevra vir donasie.
Wat gebeur as hulle by die SAPS aankom?
“Ons oorhandig n memorandum aan die stasiebevelvoerder, hy erken skriftelike ontvangs. Al die stasiebevelvoerders se handtekeninge gaan op ‘n memorandum na die Provinsiale kommesaris. Ons bid ook saam met die gemeenskap. Die gemeenskap teken ook die selfde memorandum en al daardie handtekeninge gaan na die Nasionale eindpunt van die Nasionale kommissaris. Hierdie handtekening word oorhandig aan 911 wanneer ons met die gemeenskap interaksie het,” vertel Maré.
Hulle program op 6 Oktober is: Om 10:00 verlaat hulle Witrivier na Hoedspruit, om 12:00 word hulle ontvang in Hoedspruit, ongeveer 13:49 stop hulle by die SAPD op Gravelotte en dan om 14:42 is hulle in Letsitele.
LEES OOK: HOEDSPRUIT: Welkom in Limpopo “911 Riders”
Hulle sal ongeveer 15:41 in Tzaneen stop by die ‘golf range’ langs die Skougronde en dan in Tzaneen oorslaap.Op 7 Oktober om 07:30 beweeg hulle uit Tzaneen uit en om 08:06 stop hulle in Haenertsburg.
Die gemeenskappe word mooi gevra om die inisiatief te ondersteun en die ‘911 Riders’ in te wag by al die onderskeie dorpe.
“Alle bikers is welkom om saam te kom ry. Ons vertrek 12:00 van Mugg & Bean Tzaneen na Gravelotte waar ons die 911 groep sal ontvang en saam terug ry tot in Tzaneen. Indien enigiemand vrae het is jul welkom om my te WhatsApp of te skakel by 0799829410,” sê Estelle Venter wat betrokke is by die Roadhogs Klub in Tzaneen.
Alle betrokke partye sien uit om die gemeenskappe te sien!



