
As meer persone soos Flora optree sal koerantopskrifte iets wees om na uit te sien.
Om jou beursie te verloor is menige mens se grootste bekommernis.
Die blote gedagte om weer deur die spreekwoordelike hel te gaan om alles te vervang en die gerompslomp om alles gekanseleer te kry laat menige koud.
Maar ‘n sekuriteitswag by Tzaneng Mall se eerlike optrede het die teenoorgestelde tot gevolg gehad.
Flora Kgatla, (42) sekuteiteitswag van Urban Africa het Maandag ‘n beursie opgetel tussen die geparkeerde voertuie by die onderdakparkering van die sentrum.
“Ek het die beurise oopgemaak en daar was drie bankkaarte in, ‘n paar sente en ‘n bestuurslisensie. Ek het dadelik die eerste persoon wat ek gesien het gevra of dit haar beursie is,” het Flora aan LETABA HERALD vertel.
Die vrou het glo aan haar gesê dat sy die van herken, maar dat sy die beursie na die betrokke bank gaan neem, om sodoende die persoon wie se beursie dit is op te spoor.
Na wat verneem word is die beursie veilig terugbesorg aan die eienaar daarvan.
Flora is al 14 jaar ‘n sekuriteitswag by die sentrum en vertel trots dat sy vrou-alleen in beheer is van die ondergrondse parkeer-area.
“Partykeer parkeer van die mense hier en los hulle motors se vensters oop, dan kontak ek dadelik ons kantoor kontroleerder, en ek staan net hier en wag en maak seker die kar is veilig tot die persone terug keer,” vertel sy.
Sy vertel dat party persone baie agterlosig is, en dat baie waardevolle items soos skootrekenaars en selfone in die karre gelaat word.
“Ek probeer wag hou by daardie karre, want dis my werk om seker te maak die karre is veilig,” vertel sy trots.
Flora is ‘n voorbeeld vir baie.
Haar soort is min gesaai, en in vandag se tye waar korrupsie, oneerlikheid en diefstal daagliks aan die klok gehang word, kan Tzaneeners met ‘n geruste hart weet dat hulle karre veilig is onder die wakende oog van dié voorslag sekuriteitswag, na die beste van haar vermoë. Ons kan almal op aandag haar salueer en sê welgedaan!
LW: Flora het nie ‘n fooitjie as bedanking gekry vir haar optrede nie. Want in haar eie woorde: “Ek vat nie fooitjies nie, want dit is my werk om goed te doen in dit wat ek doen en dit is genoeg.”